Inwoners van groot dele van die suide van Bloemfontein behoort teen vanaand water te hê nadat ’n pyp in Pellissier gebars het.
Die Vaal Sentraal Waterraad (die nuwe naam vir Bloemwater), werk sedert gister aan die Welbedacht-pyplyn, wat water aan die Brandkop-reservoir voorsien en ’n groot deel van die suide van water voorsien.
DA-wyksraadslid Rossouw Botes was laat vanoggend op die plek waar die pyp reggemaak word. “Hulle hoop om vanaand klaar te wees met die werk. Die deel van die pyplyn moet dan vol water gepomp word om die reservoir weer vol te pomp.”
Die waterraad het laat weet dat daar watertenkwaens en jojo-tenks op verskeie plekke beskikbaar is.
Dit sluit in die supermark by Vistapark, die brandweerstasie in Elrichpark, die kliniek in Fauna, voor die skool in Lourierpark en by die Engen-vulstasie en OK-supermark in Pellissier.
In ’n nuusverklaring wat gister uitgereik is, sê Lindiwe Mnguni, bestuurder van kommunikasie en bemarking van die Vaal Sentraal Waterraad, die waterraad verskaf bykomende water aan die Longridge-reservoirs deur die hooflyn.
“Dit sal die watertoevoer vanaf Longridge aanvul en help waar watervoorsiening onderbreek word of die waterdruk swak is,” sê Mnguni in die verklaring.