’n WhatsApp-groep wat vanoggend kort ná 06:00 gestig is, het teen 13:00 meer as 600 mense opgehad wat vir ’n jong leerling van die Laerskool Willem Postma bid wat Saterdag-middag ’n hartstilstand gekry het.
Mense oor die stad heen dink in gebede aan Neil Shaw (10), wat in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein se pediatriese waakeenheid is.
Hy is Saterdag na die Emoyamed-hospitaal gehaas waar hy gestabiliseer is, waarna hy in Mediclinic opgeneem is.
’n Operasie waarin ’n pasaangeër ingeplant is, is vanoggend vroeg suksesvol op hom uitgevoer.
’n Vriendin wat die groep begin het, sê sy het dit gedoen sodat Neil se ouers, Willie en Lerie, mense wat vir hul seun bid op die hoogte kan bring.
’n Bidgroep het vanoggend by die skool saamgekom, waartydens mense 40 minute aaneen vir Neil gebid en hom aan die Here opgedra het.
Lianie Myburg, ’n vriendin, sê in Markus 2 het Jesus ’n verlamde man genees danksy sy vriende se geloof.
“Ons as vriende en familie kan nou intree en met outoriteit bid.”