Stukkende watermeters word verwyder en eers weer later vervang.

Die Mangaung-metro se projek om wanbetalers se water- of elektrisiteitstoevoer te ontkoppel totdat hulle betaal, is dalk goed bedoeld om invordering te bevorder, maar lei tot talle frustrasies onder huisbewoners.

Een van die talle nagevolge is dat die verkeerde mense se watertoevoer ontkoppel word en dié betalende kliënte dan spook om dit reg te stel.

Dit gebeur ook dat huisbewoners gekontak word deur individue wat by hulle ‘n bedrag van tussen R600 tot R1 500 eis om te keer dat water ontkoppel word. Dit behels ‘n kontantoorplasing na ‘n rekening.

Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, waarsku inwoners om nie geflous te word deur hierdie individue wat huisbewoners probeer indoen nie.

“As jy twyfel, besoek die invorderingsafdeling in die Bram Fischergebou. Die amptenare sal bevestig of jou rekening uitstaande is.”

Rudi Maartens sê nog ‘n probleem in sy wyk is onklaar watermeters.

“Die metrowerkers moet die meters verwyder, en koppel die water op die gewone manier totdat hulle ‘n nuwe meter aanbring. Verwarrende boodskappe veroorsaak dat talle mense nie besef dat hulle tussentyds moet betaal nie. Dan kom die metro se werkers ná maande en sny die inwoner se watertoevoer af weens wanbetaling,” verduidelik Maartens.

Hy sê baie mense in sy wyk is eerstekeer-kopers, en hy verduidelik: “Jy moet jou rekening betaal. As jy nie een kry nie, moet jy na die Glaspaleis gaan en jou rekening kry en seker maak jy ontvang dit elke maand.”

You need to be Logged In to leave a comment.