Twee susters het hul diepste vrouwees verwoord in ’n digbundel wat pas uitgegee is.
Bloemfonteiner Alet Enslin, taalversorger by die departement van onderwys, se debuutbundel het in 2019 verskyn.
Sy volg Genesis tot genesing op met ’n nuwe bundel wat talle aspekte van vrouwees bewoord.
“Ek is vrou gaan oor vrouwees in die algemeen, dit is nie ’n boek oor feminisme of oor vroue wat hoë hoogtes bereik het nie,” gesels Alet.
“Dit is doodgewoon my indrukke van vrouwees – die lag, die emosie, die trauma.”
In van haar gedigte, soos “Cape Flats”, staan sy stil by maatskaplike kwessies wat haar diep raak.
Francois Terblanche, haar vennoot by die skryfplatform Kreatio, het gehelp met die fyner versorging van die selfgepubliseerde boek.
“Toe ek en Francois die sowat 120 gedigte vir die bundel begin bymekaarsit, het ek besef ek moet my suster se gedigte byvoeg.”
Haar suster Fransie Davel het verlede jaar haar man, Braam, weens Covid-19 aan die dood afgestaan.
“Alet het my ’n paar jaar gelede begin touwys maak oor die skryf van gedigte,” sê Fransie, wat in Polokwane woon.
“Die afgelope vier jaar skryf ek gedigte. Met die dood van Braam in Januarie verlede jaar het ek myself tot genesing geskryf. Saans as ek nie kon slaap nie, het ek gedigte geskryf om die seer in my te verwoord.”
Alet sê dit is vir haar ’n voorreg om Fransie se poësie in haar bundel op te neem.
“Die lewe trek soms ’n streep, soms ’n ligte een en soms ’n wrede een en Covid-19 trek dik, donker strepe en verdoof ligte,” skryf Alet in die voorwoord van Ek is vrou.
Fransie sê vandat sy die gedigte gerangskik en vir Alet gegee het om te publiseer, het sy dit nog nie weer gelees nie.
“Dit het my nie gehelp om genesing te vind nie, maar dit het my perspektief gegee. Dit het my die moed gegee om my seer te deel met ander vroue waarmee ek saam kon huil oor ons diep hartseer.”
Sy en Braam was langer as 39 jaar getroud, en sy glo die skryf van dié gedigte het haar ’n manier gegee om die hantering van haar verlies ’n klein bietjie makliker te maak, al lê die trane baie vlak.
Dit is die eerste keer dat van haar werk gepubliseer word.
Francois het die buiteblad ontwerp en die taalversorging gedoen. Hy skryf dat albei vroue hul pyn in poësie verander – poësie wat siele vir ewig sal laat voortleef.
Alet is reeds besig met haar volgende skryfprojek – ’n kinderboek oor meerkatte.
Ek is vrou is op die webblad kreatio.co.za beskikbaar, of stuur ’n e-pos na alet@kreatio.co.za.
* Een leser van die Bloemnuus-nuusbrief kan ’n kopie van Ek is vrou wen. Gaan like die inskrywing op Bloemnuus se Facebook-blad en skryf in die kommentaar: Vrou.