Gedugte span kry pluimpie

Pluimbalspeler Robert Summers (20), ’n tweedejaarregstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het die naweek saam met sy spanmaat die Afrika-titel in die dubbelspel verower.


Pluimbalspeler Robert Summers (20), ’n tweedejaarregstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het die naweek saam met sy spanmaat die Afrika-titel in die dubbelspel verower.

Summers het al heelwat nasionale titels gewen en is ook deel van die nasionale span, maar het tot nog toe nie die trappie na die Afrika-vlak behoorlik geneem nie.

Dit het die afgelope naweek verander toe hy op die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms van 13 tot 19 Februarie in die John Barrable-saal in Benoni uitgeblink het.

Hy het die Afrika-titel saam met sy dubbelspel-spanmaat, Jarred Elliot van Gauteng, gewen.

Hulle het nie ’n maklike roete na bo gehad nie en moes in die halfeindronde die nommereen-gekeurde paar van Algerië die stryd aansê. Hulle het ’n titaniese stryd met 12 – 21, 21 – 18 en 21 – 19 gewen om toe in die eindronde teen die tweede gekeurde paar, ook van Algerië, te speel. In die eindronde was hulle egter so op die kruin dat hulle relatief gemaklik gewen het met 21 – 13 en 21 – 17.

Dié oorwinning is ook goud werd as ’n mens in ag neem dat kwalifisering vir die Olimpiese Spele van 2024 binnekort begin en dat slegs 16 pare uit die hele wêreld kan kwalifiseer.

Summers het ook in die enkelspel gewys dat hy binnekort daardie titel wil wen deur in die kwarteindronde die nommereen-gekeurde Youcef Sabr Medel van Algerië te klop met 22 – 20 en 21 – 15. Hy het goed vertoon in die halfeindronde teen die nommerdrie-gekeurde Anuoluwapo Opeyori van Nigerië met ’n telling van 19 – 21, 17 – 21. Opeyori het die toernooi gewen. Die bronsmedalje is vir Summers baie werd.

Nita Scholtz het ’n moeilike week gehad en kon nie die enkelspeltitel wat sy in 2021 gewen het, suksesvol verdedig nie. Sy moes tevrede wees met die silwer­medalje nadat sy in die eindronde teen Fadilah Rafi van Uganda verloor het met ’n telling van 21 – 14, 14 – 21 en 16 – 21. In die spankompetisie het sy ook teen Nour Youssri van Egipte vasgeval.

Caden Kakora, wat wat saam met Nita in Denemarke voorberei het, was die derde Bloemfonteiner in die Suid-Afrikaanse span, maar het min geleenthede by die toernooi gekry.

Hy het skaflik vertoon om in die spankompetisie sy enkelspel teen Mosambiek gemaklik te wen, en in die individuele kompetisie het hy teen Brian Kasirye van Uganda, wat vierde gekeur was, in drie stelle verloor in die ronde voor die kwarteindstryd met 21 – 17, 12 – 21, 6 – 21.

Die Suid-Afrikaanse span het in die spankompetisie ’n bronsmedalje gewen nadat hy in die halfeindronde teen Egpite – die uiteindelike wenner met 3 – 1 – verloor het. In die groepfase het die span Mosambiek met 5 – 0 en Uganda met 4 – 1 gewen, en in die kwarteindronde Zambië met 3 – 0.

Ná die byeenkoms het spelers reguit lughawe toe gegaan vir die Uganda- internasionale kampioenskap in Kampala, wat Woensdag (22/02) begin het. Die prysgeld van R270 000 is ’n wortel voor die neus en daar sal heelwat wêreld­ranglys-punte beskikbaar wees, wat belangrik is vir die spelers wat meeding om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.