Jou lewe maak saak. Kies hoop en stap saam vir genesing.
Só nooi Velda Taudie van Heidedal wat onlangs die niewinsgewende organisasie Girl with a Mission gestig het.
Sy bied die Walk for Healing Walkathon aan om vir jongmense te sê dat oefening depressie teëwerk en dat daar mense is wat omgee.
Dit is oefening wat Taudie deur ‘n baie traumatiese tydperk van haar lewe geneem het.

In 2013, toe sy en haar man in Bellville-suid in die Wes-Kaap gewoon het, het hy aan erge depressie gely. Eendag het hy homself reg voor haar doodgeskiet. Daarna het sy alles verloor − en teruggekeer na haar ma in Heidedal, waar sy begin oefen het om haar kop skoon te kry.
Die volgende trauma het egter voorgelê. In 2018 het die polisie van Bellville gekom en haar in Bloemfontein in hegenis geneem vir haar man se dood. Sy het ‘n naweek van hel beleef; eers in die selle in Bloemfontein en daarna in Kaapstad. Voordat sy die Maandag in die hof verskyn het, is die saak uitgegooi en moes sy self haar weg terugvind huis toe.
“Daarna het ek in ‘n erge depressie verval. Dit het lank geneem voordat ek weer, in 2020, begin oefen het en my lewe bymekaar kon kry,” sê sy.
Taudie sê sy wil nou baie graag jongmense wat aan depressie ly en swaarkry, help.
“Daar is nie baie hulp vir jongmense in my gemeenskap wat swaarkry nie. Ek wil met Girl with a Mission die stilte rondom selfdood en depressie breek. Ek wil vir kinders sê: Daar is hulp daar buite. As jy nie weet waarheen om te gaan nie, vra vir hulp.”
Sy sê sy hoor soveel jongmense sê dat niemand vir hulle lief is nie.
“Selfdood in ons gemeenskap is ‘n groot bron van kommer.”

aanbied. Foto: Lientjie Mentz
Taudie sê mense van die gemeenskap wat onlangs selfdood gepleeg het deur voor ‘n trein in te gaan, is voorbeelde hiervan.
“Ons is gemaak om vir mekaar lief te wees. Met Girl with a Mission wil ek ‘n veilige omgewing skep vir kinders wat depressief is en nie uitkoms sien nie.”
Sy sê oefening het haar baie gehelp om haar selfliefde te vind. Walk for Healing word op Saterdag 27 September om 07:00 aangebied.Die roete begin by die Billy Murison-stadion in Heidedal. Jongmense van 12 jaar en ouer word genooi om deel te neem.
Om saam te stap is gratis.
Kontak Taudie by 084 894 1999.






You must be logged in to post a comment.