’n Plaasvoorman van Kestell, Frikkie van Huyssteen (30), sal voorlopig nie meer aangekla word nadat hy ’n aanvaller uit noodweer geskiet het nie.
Van Huyssteen se prokureur, Johan Niemann, sê die polisie het in Februarie in ’n nuusverklaring beweer dat Van Huyssteen van moord aangekla is nadat Thokozani Mdlhuli (28) dood is.
Mdlhuli het volgens Van Huyssteen se verklaring in September vir Van Huyssteen aangeval terwyl hy en nog twee mans plaaswerk verrig het.
Mdlhuli, ook ’n plaaswerker wat voorheen afgedank is, het Van Huyssteen met ’n ysterpaal in sy gesig bokant sy neusbrug gesteek.
Van Huyssteen kon daarin slaag om sy vuurwapen uit te haal en het Mdlhuli in sy nek geskiet.
Niemann, wat onmiddellik na die plaas gery het, sê Mdlhuli is in die hospitaal opgeneem, maar die polisie het op die toneel geweier dat Van Huyssteen hospitaalbehandeling ontvang.
Van Huyssteen het vermoedelik harsingskudding gehad en het opgebring.
Die polisie het later ingestem dat Van Huyssteen ’n huisdokter in Kestell kan besoek voordat hy toegesluit is.
Hy is die volgende oggend op borgtog vrygelaat. Mdlhuli was ná die voorval verlam en was ’n tyd lank in die hospitaal.
Hy is later ontslaan en is in Desember dood, maar niemand weet presies waarvan nie.
Die polisie in die Vrystaat het in Februarie ’n verklaring uitgereik om te sê Van Huyssteen word van moord aangekla, maar Niemann sê tot op hede is sy kliënt nooit van moord beskuldig nie.
Die klag van poging tot moord is op Vrydag 4 Junie van die hofrol geskrap omdat die polisie weer om uitstel gevra het. Niemann sê hy glo daar moes ’n geregtelike doodsondersoek gewees het nadat Mdlhuli dood is.
“Dit was ’n tipiese geval van selfverdediging,” sê Niemann.
Die mans wat saam met Van Huyssteen gewerk het, het onmiddellik verklarings afgelê. Tog het die polisie tot verlede week nog gevra dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel word.