Te midde van een van die ergste hittegolwe in Bloemfontein- die kwik staan vandag weer op 40gradeC – is inwoners moedeloos en magteloos oor droë krane wat al meer huishoudings beïnvloed. Watertenks oor die stad heen is droog en mense moet oral om hulp aanklop vir water vir huishoudelike gebruik.
Verskeie briewe is al aan die openbare beskermer (OB) gerig en AfriForum dreig om die metro by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) te verklasoos iin die voortslepende waterkrisis in die Mangaung-metro.
In die nuutste verwikkeling was daar in die vroeë oggendure gister – Dinsdag 10 Desember – ’n kragonderbreking by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg. Water kon in hierdie tyd nie na Bloemfontein gepomp word nie en toe die krag weer aangaan, het reservoirs in die noorde van die stad leeg geloop en kring die probleem uit.
Sello More, die metro se stadsbestuurder, het pas stappe aangekondig om die stad se watertoevoer voor die feesseisoen te stabiliseer.
Hy sê in dele vandie stad waar die water nou min is, gaan die water die volgende drie aande toegedraai word om die stelsel te stabiliseer.
Van Donderdag 12 Desember gaan watervermindering by die Brandkop-reservoir toegepas word om watervlakke te stabiliseer voor die langnaweek.
Nog waterverminderings word voorsien vir Woensdag 18 Desember om te verseker dat daar genoeg water is vir die Kersvakansie.
Dit blyk dus dinge gaan eers weer heelwat versleg voordat verbetering verwag kan word.
AfriForum sê by monde van Christo Groenewald dat dié organisasie druk op die metro sal toepas om te verseker dat inwoners beskerm word.
“Die Mangaung-metro moet eienaarskap neem van hierdie probleem en nie net korttermynoplossings soek nie,” sê Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Rosestad. “Daar moet gefokus word op gereelde onderhoud en infrastruktuuropgraderings wat probleme op die langtermyn aansienlik sal verminder.”
Groenewald sê die situasie het ‘n ernstige impak op inwoners se lewensgehalte, aangesien basiese higiëne en toegang tot drinkwater in die gedrang kom. “AfriForum dring aan dat die munisipaliteit sy grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners nakom deur spoedig op te tree om hierdie humanitêre krisis op te los.”
More sê die watervermindering word oor twee dae gedoen sodat die gemeenskap nie verder verontrief word nie.
Hy moedig inwoners wat wel water het aan om water spaarsamig te gebruik om te help dat die reservoir-vlakke oor die stad heen weer normaal kan funksioneer.
Volgens hom word watertenks na verskillende dele van die stad gestuur sodat mense water tydens hierdie tyd toegang tot water sal hê.
Melanie Fourie van Pentagonpark het vroeër vandag ‘n brief aan die openbare beskermer gestuur waarin sy onder meer sê dat baie inwoners al langer as 10 dae geen of baie min water het. Sy sê die metro se beloftes van watertenks om die vraag na water te verlig het ook nog nie by hulle gerealiseer nie.
“Ons het dringend betroubare en deurlopende water nodig, veral gedurende hierdie erge weerstoestande,” vra sy in ‘n brief aan die openbare beskermer.
More sê die metro werk aan langtermynoplossings. “Dit sluit die verwydering van slyk in ons infrastruktuur in sodat ons voldoende water aan die gemeenskap van Mangaung kan verskaf.” Hy het beloof dat die plan en hoe dit gedoen gaan word, binnekort bekend gemaak gaan word.
More sê die watertekorte in die metro val ongelukkig saam met ’n erge hittegolf in Suid-Afrika wat ’n nadelige uitwerking op die reservoir-vlakke het.
“Ons wil die gemeenskap verseker dat ons onverpoos werk om die watertoevoer aan die dele wat erg geraak word, te herstel,” sê More.