Goeie geestesgesondheid is nie net noodsaaklik vir jou geestelike welstand nie, maar ook vir jou fisieke welstand.
Dit was die boodskap van dr. Katinka Botha, die voorsitter van Bloemcare se hospitaalraad op Wêreldgeestesgesondheidsdag wat op 10 Oktober by die hospitaal gevier is.
Bloemcare het die dag gevier deur vir pasiënte lekker aktiwiteite aan te bied.
Botha het op die geleentheid gesê die wêreld waarin ons leef, is ’n moeilike plek.
“Selfdood weens depressie is die algemeenste rede vir sterftes onder tieners,” het sy gesê.
“Verder lei vroue meer aan depressie as mans juis omdat hulle ’n swaarder las dra.”
Sy sê die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angstigheidsgroep (Sadag) het sedert die begin van die jaar al 40 000 oproepe oor selfdood hanteer.
Barbara Steenkamp, Bloemcare se hospitaalbestuurder, sê die meeste van die mense wat in Bloemcare opgeneem word vir behandeling, ly aan angs en stres.
“Geestessiektes het ’n reuse-impak op verhoudings,” sê sy.
Daar is eenvoudige dinge wat mense kan doen om hul angs en stresvlakke by die werk beter te beheer.
Mense wat ly aan angstigheid weens hul werklading of ander werkverwante stres, is voortdurend bekommerd, gespanne en onrustig.
Dit kan veroorsaak word deur ’n verskeidenheid faktore soos ’n swaar werklas, streng spertye, mense wat nie beheer het oor hul take nie, ’n uitdagende werksomgewing en ’n vrees om nie na wense te presteer nie.
Indien dit nie bestuur word nie, lei hierdie soort angstigheid tot uitbranding, fisieke gesondheidsprobleme en ’n verminderde werksbevrediging.
Devan Moonsamy gee in sy boek The 8-step Guide To Modern Mental Health wenke van hoe om angs weens werkslading beter te bestuur:
Identifiseer die oorsaak van stres
Wat van die werklading veroorsaak jou angstigheid? Is dit die volume werk, onrealistiese verwagtinge, interpersoonlike konflik of iets anders?
Stel realistiese verwagtinge
Maak seker jou werklading en doelwitte is doenbaar binne ’n gegewe tydsraamwerk. Wees eerlik met jouself en jou bestuurders oor wat jy kan doen.
Tydbestuur
Gebruik effektiewe tydbestuurstegnieke om jou take te prioritiseer en jou tyd effektief te bestuur.
Verdeel take in hanteerbare stappe
Verdeel komplekse take in kleiner, hanteerbare take en wys ’n bepaalde tyd toe om elkeen te voltooi.
Delegeer en werk saam
Indien moontlik, delegeer take aan kollegas en werk saam met hulle om die werklas te verlig.
Kommunikasie is belangrik
Goeie kommunikasie met jou toesighouer of bestuurder oor jou werkslading en enige veranderinge wat jou raak, is baie belangrik. Hulle kan dalk ondersteuning aanbied of die take verdeel.
Leer om nee te sê
Dit is belangrik om grense te stel en te sê wanneer bykomende verantwoordelikhede vir jou te veel is om te hanteer.
Neem gereeld ’n ruskans
Skeduleer kort ruskanse deur die loop van die werksdag sodat jy kan ontspan en nuwe energie kry. Dit kan help om uitbranding te voorkom.
Gee om vir jouself
Prioritiseer aktiwiteite soos oefening, ontspanning en ’n gesonde lewenswyse buite jou werkplek.
Soek hulp
Praat met vriende en familie of ’n terapeut wanneer angstigheid wat verband hou met jou werklas, jou oorweldig.
Kry professionele hulp
As werklas-angstigheid chronies is en jou lewe daagliks beïnvloed, kry professionele hulp by iemand wat jou kan help met strategië om jou angstigheid te bestuur.