Ilse Roux met haar boek Die Bybelse vas. Credit: Lientjie Mentz

Dikwels word in die Bybel verwys na vas as geestelike gebaar van onderwerping aan en innerlike verootmoediging voor God.

Ilse Roux, ‘n ontwerper van trourokke van Belville, het op 10 April in Bloemfontein by Exclusive Books met ds. Hennie Maartens gesels oor haar tweede boek, wat onlangs verskyn het.

Roux was in die stad omdat haar seun, Franco, wat vir die Cheetahs se o.21-span speel, op die onlangse herfsgradeplegtigheid van die ETA-kollege ‘n sertifikaat in fiksheidwetenskap ontvang het.

“Ek stap al 17 ‘n pad met vas. Ek het nie grootgeword met die praktyk nie, maar nadat ek in 2008 Jentezen Franklin se boek Wanneer julle vas gelees het, het ‘n heel nuwe wêreld vir my oopgegaan,” vertel sy.

Op die bekendstelling van Ilse Roux se boek Die Bybelse Vas, is van links Alma Struwig (Exclusive Books), Roux, Maretha Maartens en haar man, ds. Hennie Maartens (gesprekvoerder). Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

“As jy vas volgens die Bybelse voorskrifte, voel jy dit aan jou lyf. Jy hunker na kos. Die vlees word swakker en jy raak bewus van hoe afhanklik jy van God is. Dit is ‘n soort heiligwording.”

Roux verduidelik dat die Bybelse vas in verskillende vorme voorkom. Daar is onder meer die algehele vas, die Estervas en die Daniëlvas.

Die algehele vas is totale onthouding van voedsel, waartydens ‘n mens net water drink.

Dit kan van een tot drie dae duur, en selfs tot so lank soos tien dae. Roux verduidelik dit is die soort vas wat jy kan onderneem as jy ‘n belangrike besluit moet neem. Sy vertel van geestelike leiers wat een keer ‘n week vas vir hul gemeente en om God se stem te hoor.

Die Estervas is om drie dae sonder kos of water te bly (Ester 4: 15-16). Die Daniëlvas is om 21 dae geestelik te vas. Daniël en sy vriende het in dié tyd glad nie vleis, brood, suiwel, wyn of enige vetterige kos en lekkernye geëet nie. Hulle het slegs vrugte, groente en water ingeneem.

Roux sê sy het op ‘n keer 40 dae lank die Daniël-vas gedoen en daarna nog tien dae die watervas.

“Vas maak jou ontvanklik vir God se doel met jou.”

Sy glo vas is ‘n intieme saak tussen jou en God en nie iets wat jy uitbasuin nie. Dit is eerder ‘n geheime wapen teen die vyand, en niemand hoef daarvan te weet nie.

Tog sê sy talle mense verkies om dit in Bybelstudieverband of kerkverband te doen sodat hulle mekaar kan ondersteun en saam geestelike krag daaruit kan put.

Benewens die praktiese wenke en geestelike waarde van vas, beskryf Ilse in Die Bybelse Vas die fisieke voordele van vas.

Sy bespreek onder meer in een hoofstuk die voordele wat vas vir die liggaam inhou en verwys terug na atieke tye toe filosowe en wetenskaplikes gevas het om helderheid van verstand te kry.

In Die Bybelse Vas deel Roux haar eie ervarings van vas asook kragtige getuienisse van ander met nagevorste stawing uit die Woord.

■ Staan die kans om ‘n kopie van Die Bybelse Vas te wen deur na die inskrywing op BloemNuus se Facebook-blad te gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.