Reg voor hul huis in Kwaggafontein sit motors gereeld in ’n moddermassa vas nadat ’n varswaterpyp weke gelede stukkend geskraap is.
Mariaan Kotzé sê daar is twee plekke in Pimentstraat in dié hoewegebied waar pype gebars het en die pad onbegaanbaar geraak het.
“Hier sit gedurig motors vas en die werkers en plaaswerkers se kinders moet daagliks deur diep plasse modder stap om by die werk of skool te kom.”
Dié kunstenaar en haar ouers, kunstenaarspaar Kobus en Joe Kotzé, sê die pad is eintlik nou in ’n goeie toestand.
“Sodra dit reën, raak die pad heeltemal onbegaanbaar.”
David McKay, DA-raadslid, sê daar is talle probleme met die paaie in Kwaggafontein.
“Pimentstraat is ’n maand gelede die eerste keer in vyf jaar geskraap,” sê hy.
“Dit is goed dat die paaie geskraap word, maar dié en ander paaie moet dringend met gruis opgevul word, so die pad is nou al so laag geskraap dat waterpype stukkend geskraap word wanneer dit wel gedoen word. Hier kort baie gruis.”
Mariaan sê hulle het al gruis gekry en hier probeer opvul, maar regtig baie is nodig om die pad weer rybaar te maak.
McKay sê daar is vier plekke in Pimentstraat waar water uitstroom. Hy sê in Kwaggafontein is ongeveer sewe ernstige lekplekke.
Hy sê benewens die kwessie dat pype stukkend geskraap word, duur die Mangaung-metro se verkrygingsproses regtig baie lank.
“Vir ’n herstelproses wat eintlik in agt uur afgehandel kan word, neem dit nou twee tot drie weke om die parte te bekom.
“Net hierdie een pyp wat sowat R2 000 sou kos as dit gou herstel kon word, kos die metro nóú derduisende rande aan verlore water.”
DA-raadslid Pieter Lotriet sê die metro fokus nou net op die groot waterlekplekke omdat die beursie styf vasgehou word.
“Dit help nie veel as geld gespaar word, maar dienslewering ly daar onder nie.”
Hy het Sondag (24/07) die plek in Aliwalstraat waar ’n pyp gebars het vier keer besoek. Lotriet sê die bars was sowat 1 m in die lengte in die 90 mm-staalpyp.
Die pyp is intussen herstel, maar die grond is baie nat en die hoop grond veroorsaak nou ontwrigting in verkeersvloei in Aliwalstraat oorkant die Meisieskool Oranje. Intussen het ‘n nuwe lekplek Woensdag (28/07) in dié pyp ontstaan en water het Donderdagoggend oor Aliwalstraat gestroom.
Daar is talle ander lekplekke in wyk 21, waarvan een in Groblersingel in Hilton.
“Die water spuit daar teen 2 liter elke 2 sekondes uit,” sê Lotriet.
Hy sê hulle weet nie hoe diep die pyp is nie.
“Die munisipaliteit moet nou kies watter lekplekke en gebarste pype reggemaak word,” sê Lotriet.
“In Whitesweg was daar vier, waarvan hulle die grootste twee lekplekke reggemaak het.”
Ook in Jan Wilkensstraat in Hillside View is daar ’n lekplek waar groot hoeveelhede water wegvloei.
DA-raadslid Selmé Pretorius sê daar is sowat 20 waterlekke in wyk 44.
Sy sê water uit die een in Jan Wilkensstraat vloei al langer as drie weke en loop sowat 800 m ver.
“By baie van die lekplekke loop water nou al so lank dat slaggate in die teer begin vorm.”