‘n Skaalmodel van die HNLMS Gelderland, waarop Paul Kruger in 1900 van Lourenço Marques (vandag Maputo) na Marseille in Frankryk geneem is, is Maandag deur die modelbouer Jan Linde (87) aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke se uitvoerende hoof, Tokkie Pretorius (regs), oorhandig. Foto: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – ‘n Besonderse skaalmodel van die oorlogskip HNLMS Gelderland, waarmee Paul Kruger in 1900 na Europa geneem is, is op Maandag 7 Julie aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke oorhandig.

Dr. Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum het in 2024 ‘n versoek aan die Nederlandse Ambassade gerig om ‘n uitstalling van dié land se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog te borg.

Die ambassade het R100 000 vir dié uitstalling bewillig en ‘n bykomende R30 000 is deur die Ewijck-stigting bewillig.

Laasgenoemde is ‘n kultuurorganisasie in die Kaap wat kultuurbande tussen Suid-Afrika en Nederland bevorder.

Die pragtige skaalmodel van die Gelderland is nou in die oorlogsmuseum in Bloemfontien te sien. FOTO: Lientjie Mentz

Van Zÿl het skaalmodelbouer Jan Linde (87) genader om ‘n replika van die Gelderland te bou om as deel van dié uitstalling ten toon gestel te word.

Linde het nege maande lank gewerk aan die skaalmodel van 1 m lank (100:1) wat hy uit hout gekerf het.

Die detail op die skip is besonder getrou aan foto’s van dié skip.

Die Gelderland is in 1887 in Rotterdam gebou en was een van ses Nederlandse pantserdekskepe.

Een van die skip se eerste opdragte vanaf koningin Wilhelmina van Nederland was om pres. Paul Kruger en sy geselskap, wat tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) voor die Britse ryk gevlug het, te gaan haal.

Die voorblad van Le Petit Journal met Paul Kruger op die Gelderland. FOTO: Oorlogsmuseum

Die groep was in daardie stadium ballinge in Lourenço Marques (vandag Maputo).

Die Gelderland het Lourenço Marques op 12 Oktober 1900 bereik en het weer op 19 Oktober met Kruger aan boord na Marseille in Frankryk vertrek.

In Marseille het ‘n groot skare mense die Gerderland ingewag, en Kruger is as held daar verwelkom.

As trougeskenk met haar huwelik met prins Hendrik, en as blyk van dank teenoor haar, het Kruger later jare ‘n klein skaalmodel van die Gelderland, van egte silwer, aan koningin Wilhelmina geskenk.

Benewens die skaalmodel van die Gelderland, is ‘n skildery van koningin Wilhelmina ook vir die Oorlogsmuseum gemaak en ‘n dokumentêre video oor Nederland se betrokkenheid by die ABO is ook vervaardig.

Die skildery van Koningin Wilhelmina wat deel van die Oolrogsmuseum se versameling is. FOTO: Oorlogsmuseum

Die uitstalling van die Nederlanders se betrokkenheid by die ABO sal in Desember by die Oorlogsmuseum geopen word.

Intussen kan besoekers na die skaalmodel van die Gelderland in die museum se Paul Kruger-saal gaan kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.