Die nasionale tesourie het op 28 Maart ’n bedrag van R53,9 miljoen aan die Mangaung-metro toegeken om nuwe vlootvoertuie te koop.
Francois Nel, waarnemende hoof van die metro se afdeling vir vullisverwydering en vlootbestuur, sê hy glo dienslewering wat betref vullisverwydering gaan in die nuwe geldjaar verbeter omdat die konsepbegroting die eerste keer dié taak van die metro insluit.
Voertuie wat volgens die voorgestelde plan deur die verskaffingsafdeling gekoop sal word, sluit in twee stortingsterrein-kompakteerders, twee stortingsterrein-stootskrapers, vier vullisverwyderingskompaksie-voertuie (tien ton), drie trekkerlaaigrawe (TLBs), twee laaigrawe, twee wipwaens (10 m3) en drie 4 x 4-enkelkajuitbakkies.
Nel sê twee of drie vullisvragmotors verwyder daagliks in Bloemfontein vullis. “Ons benodig agt vragmotors om hierdie diens effektief te lewer. Die nuwe voertuie sal toegewys word waar dit nodig is.”
Hy sê die nuwe voertuie is spesifiek gebou om huishoudelike afval te verwyder, soos wat munisipaliteite in Suid-Afrika gebruik.
Nel sê daaglikse vullisverwyderingskedules word nou uitgestuur.
“Ons ervaar steeds dat daar nie altyd samewerking is nie, en sekere elemente gebruik die situasie om verwarring en onmin te saai.”
Hy het lof vir die organisasies wat die krisis verstaan en saam met die metro werk aan oplossings.
“Daar is organisasies en lede van die publiek wat naweke opruiminggeleenthede saam met die metro en ook die nuwe waarnemende burgemeester onderneem.
“Mense werk naweke en ondernemings stel hul voertuie beskikbaar om saam ’n verskil te maak.”
Nel sê onwettige storting van vullis is ’n groot probleem en word by die dag erger.
“Dit plaas nog meer stremming op die diens wat gelewer word,” sê hy.
“Dit is belangrik dat mense herwinning op huishoudelike vlak begin doen om die vullis wat na die stortingsterreine gaan te verminder en ook om die ekonomie rondom herwinning in die metro aan te moedig.”