‘n Voorvatter in die DA in Mangaung is Sondag 08:30 oorlede nadat sy die afgelope tyd vir kanker behandel is.

Dalena Dennis (72), al die afgelope byna 20 jaar ‘n raadslid in die DA, se dood is ‘n groot verlies vir haar gesin, maar ook vir die DA-familie. Sy is behandel vir maagkanker en het chemoterapie ondergaan. Sy het verlede week sieker geword en is in die Life Rosepark-hospitaal opgeneem waar sy Sondag oorlede is.

“Tannie Dalena was soos ‘n moeder in ons midde,” sê Hardie Viviers van die DA “Sy was die gom wat ons aan mekaar verbind het. Sy het altyd kalmte gebring wanneer dinge vurig begin raak,” vertel hy.

Dalena het in haar loopbaan by die DA verskeie posisies asook leiersposisies vervul, onder meer as ondervoorsitter van die DA in die Vrystaat en as wyksraadslid van wyk 24 (toe Gardeniapark, Wilgehof en die UV-kampus. Die afgelope termyn was sy ‘n proporsionele raadslid betrokke by wyke 1, 2 en 3 van die Mangaung-metro. Sy was ook met haar dood hoofsweep van die DA-koukus.

Hy sê haar vaardigheid in Sotho was ‘n reuse-aanwins vir die party.

“As ‘n mens by haar en Peter aan huis gaan kuier het, is jy nooit daar weg sonder ‘n botteljie konfyt nie,” vertel Vivier. “Sy het altyd gesê, bring jou botteltjie terug, dan gee ek vir jou nuwes.”

Sy was maar altyd aan die konfyt kook en het dit met groot liefde aan almal om haar uitgedeel.

Werner Horn, DA-lid in die parlement en Vrystaatse provinsiale voorsitter, sê met haar dood was Dalena waarskynlik die langsdiendede sittende raadslid in die metro. Voordat Mangaung-metro status verkry het, was sy lid van die Motheo-distriksmunisipaliteit.

“Buite haar politieke loopbaan was Dalena diep gewortel in haar gemeenskap. Sy het getrou gedien as hoofdiaken van die NG kerk in Hospitaalpark, waar sy geliefd en gerespekteer is vir haar deernis en toewyding,” sê Horn.

Dalena sal onthou word vir haar toewyding, lojaliteit, vriendskap en sterk leierskap. Haar verlies sal diep gevoel word in die organisasie en die gemeenskappe wat sy byna twee dekades lank bedien het.

“Die DA in die Vrystaat bring ook spesiale huldeblyk aan haar man, Peter, wat haar as haar grootste ondersteuner en vrywilliger deur haar jare van diens gestaan het. Ons betuig ook ons innige meegevoel aan haar seuns, Abrie en Herholdt, en aan haar kleinkinders. Ons wens hulle krag, troos en vrede toe gedurende hierdie tydperk van diep rou. Mag haar nalatenskap ons almal bly inspireer.”

Peter sê haar werk by die DA was haar passie. “Sy het so omgeehart gehad. Niks was ooit vir haar te veel om te doen nie. Sy het so mooi vir ons gesin gesorg. Ons as gesin gaan haar teenwoordigheid so mis”

Haar begrafnis is Vrydag 5 Desember om 12:00 uit die NG kerk Hospitaalpark.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article