Ds. Anton Herholdt (93) van die Aliquando-aftreeoord in Bloemfontein is op 14 April oorlede. Hy was getroud met Trudie.

Die egpaar het in Januarie hul 69ste huweliksherdenking gevier. Hy het toe gesê dat dit maklik is om so lank getroud te wees as jy met die regte vrou vir wie jy lief is, trou. In al die jare het hy van haar as sy Skattie gepraat.

In sy bedieningsjare was hy betrokke by die NG gemeentes van Benoni-Noord, Springfontein, Clocolan, Bloemvallei (Bloemfontein) en Parys Moedergemeente.

Hy was geliefd in sy gemeentes oor sy liefde vir mense, omgee-persoonlikheid, positiewe geaardheid en bereidheid om oral betrokke te raak. Herholdt het altyd gesê dat ’n mens vrolik in die lewe moet wees en was altyd gereed met ’n grappie of twee.

Die egpaar was vir 17 jaar inwoners van die Striata-aftreeoord en die laaste jaar by Aliquando.

Herholdt se gesondheid het baie agteruit gegaan sedert Januarie. Hy word ook deur twee kinders, Lizette en Albrecht, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.