Johan Coetzer, inwoner van Ons Tuiste wat oorlede is. FOTO: Verskaf

BLOEMFONTEIN – Koebaai Johantjie. Nou vlieg jy vir altyd hoog. Jy was net liefde…

So skryf Jeannette Geldenhuys-Smit oor die dood van ‘n geliefde inwoner van Ons Tuiste.

Johan Coetzer (44), ‘n saggeaarde, liefdevolle inwoner met Downsindroom, is Woensdagoggend in die Universitas- Akademiese Hospitaal oorlede nadat hy daar vir longontsteking behandel is.

Hy sou op 26 Desember 45 jaar oud geword het.

Jeannette Geldenhuys-Smit sê sy is baie hartseer oor Johantjie se dood.

“Ek het hom en sy ma, Dollie, eendag in ‘n winkelsentrum raakgeloop en van daar het ons ‘n lang pad saam geloop,” vertel sy oor Johan en sy ma. Hulle twee was inwoners van Ons Tuiste totdat tannie Dollie na die verswakte afdeling verskuif is. Sy ly aan dementia.

Tannie Dollie Coetzer en Johan ‘n paar jaar gelede met sy verjaardag tydens ‘n spesiale fotosessie.

Jeannette will nou graag die familie bystaan met ‘n mooi begrafnis vir Johantjie. Sy pa, wat by die Mangaung-brandweer gewerk het, is ‘n paar jaar gelede oorlede.

Ons Tuiste gaan die begrafnis reël en die koste dek wat nie deur die polis gedek word nie.

“Ons wil graag mooi blomme en eetgoed vir die begrafnis skenk,” sê Jeannette. “Almal by Ons Tuiste ken vir Johantjie en ons wil graag genoeg eetgoed by die begrafnis hê,” nooi Jeannette aan almal wat ‘n bydra wil maak.

Johan Coetzer smul aan draairoomys waarmee hy en inwoners van Aandrus ‘n paar jaar gelede bederf is.
FOTO: Verskaf

Met Johan se verjaardag is hy elke jaar lekker bederf danksy die warm harte van mense wat omgee. Vir sy 41ste verjaardag is al die inwoners van Ons Tuiste bederf met ‘n draairoomys. Deur die jare is daar gereël dat hy motorfiets ry en ook in allerlei vuurwaens ‘n uitstappie kry.

“Vir sy 21ste verjaardag het ons gereël dat die Blitspatrollie vir Johan oplaai en hom met die sirenes aan deur die strate laat ry,” vertel John Eloff. “Ek sal nooit die ekstase op sy gesig vergeet nie. Hy het ‘n baie mooi toespraak gemaak.”

Ander mense onthou weer hoe Johan destyds saam met sy pa kitskos-aflewerings gedoen het.

Nou wil Jeannette en die ander mense wat hom deur die jare spesiaal laat voel het soos Michael Hetzel van Leopards & Lace, vir oulaas hulde aan hierdie spesiale man bring.

Reëlings oor Johan se begrafnis sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.

Besoek Jeannette Geldenhuys-Smit se Facebookblad hier.

You need to be Logged In to leave a comment.