’n Geliefde geskiedkundige en skrywer Jaap Steyn se boek waaraan hy gewerk het toe hy verlede jaar oorlede is, is baie gewild sedert dit onlangs bekend gestel is.
Steyn was ver gevorder met die skryf van sy boek So is onse mense toe hy in September 2021 oorlede is.
Bloemfonteiners het hom geken as ’n man wat passievol was oor die Afrikaanse taal en geskiedenis.
In sy laaste bundel, herbesoek hy geskiedkundige onderwerpe soos die Anglo-Boereoorlog, veral die laaste dramatiese dae van dié oorlog.
Die tweede helfte van die boek het ’n meer persoonlike strekking met agtergrond oor sy familie in die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat.
Die laaste deel van So is onse mense is kort prosa-stukke wat hy geskryf het na aanleiding van onder meer koerantberigte, boeke en insetsels op televisie.
Die boek is die derde van Steyn se boeke wat uitgegee word deur AfriForum-uitgewers, wat voorheen as Kraal-uitgewers beken gestaan het.
Ná sy dood, is daar besluit om ook huldeblyke wat aan dié woordmeester opgedra is, deel van die boek te maak.
Dit sluit in huldeblyke van familie, oudkollegas aan die Universiteit van die Vrystaat, mense en instansies wat hulle beywer vir Afrikaans as taal, talle ander skrywers, instansies, kennisse en vriende.
Verskeie sprekers het op ’n geleentheid in die Fichardpark-biblioteek in Augustus hulde gebring aan Steyn en die spesifieke aspekte wat in die boek vasgevang is.
Charles Smith, nuusbestuurder van Volksblad/Netwerk24, het gesê Steyn en Karel Schoeman was twee van die grootste Afrikaanse skrywers wat Bloemfontein nog opgelewer het.
Hy het gesels oor Steyn sê lewe toe hy destyds as joernalis by Volksblad gewerk het en later ook gereeld kommentaar oor taalgeleenthede in dié koerant gelewer het. Hy het van Januarie 1959 as onder meer vertaler, verslaggewer, subredakteur en hoofsubredakteur by Volksblad gewerk.
Dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Marthie Kemp, sy susterskind en Wyno Simes, kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, (Naln) het ook tydens die bekendstelling Steyn se lewe, werk en sy laaste boek bespreek.
- Staan die kans om hierdie besonderse boek te wen, deur die inskrywing op Bloemnuus se Facebookblad te like.