Leraar vertel van Comrades se trane én seën

“Dit is meer as net ’n wedloop. Dis ’n lewensreis,” meen past. Marius Jacobs na afloop van sy heel eerste Comrades, wat hy ten bate van die kosprojek Food4Kidz aangepak het.


Marius

Past. Marius Jacobs, links voor, kom die stadion in Durban se wenstreep toe.

Hy wou so graag onder 11 ure klaarmaak, maar is net dankbaar hy kon die uitmergelende Comrades Marathon Sondag (28/09) voltooi.

“Ek het my beste gegee. Ek het hard geoefen en het my alles gegee. Ek het die afsnypunte maklik gemaak en het gedink ek kan dit maak,” sê past. Marius Jacobs oor sy heel eerste Comrades.

“Die oggend toe die wedloop begin met die ‘Chariots of Fire’, toe voel ek klein. Jy voel so klein in die grootheid van die donkerte. Jy weet nie wat wag vir jou nie.

“Ek het in 11 ure iets oor die 20 minute klaargemaak. Dank die Here dat ek kon klaarmaak. Wat ’n resies, wat ’n dag om te beleef en te sien.”

Hy sê die liggaam gee in. Jy wil klaarmaak, maar daar is net niks oor nie.

“Die bene is pap, die arms is pap. Ek dink dit is naderhand net die kop wat vir die bene sê om op te tel.”

Hy sê dit is ontstellend om te sien hoe mense in die middel van die wedren omdraai en begin terughardloop omdat hulle gedisoriënteer is.

“Langs die pad sien jy hoe mense opgee en iemand bel om hulle te kom oplaai, of in die taxi’s klim wat verbykom. Sommige word met ambulanse weggery,” vertel hy.

“Ander, soos ek, het die voorreg gehad om klaar te maak. Dis onbeskryflik.”

Hy sê hy is seer, maar hier by dag drie ná die wedloop kan hy darem weer sy eie skoenveters vasmaak en bietjie meer mobiel wees.

“Stukkende voete, stukkende tone.”

Hy sê hy dink hy sal dit weer doen.

“Dit is meer as net ’n wedloop. Dis ’n lewensreis.”

Marius vertel toe hulle die stadion binnegaan en die duisende mense sit daar en moedig jou aan, was dit ’n onbeskryflike oomblik.

Marius het die wedloop ten bate van die kosprojek Food4Kidz afgelê. Besoek die Facebook-gemeenskapsblad Food4Kidz om ’n skenking te doen, of kontak André de Jager by 083-255-6930.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.