In ’n blitsige regmaakaksie het plaaslike ondernemings binne twee dae die brug oor die Renosterspruit by Bloemfontein waar ’n sinkgat verlede week ontstaan het, uitgegrawe en reggemaak.
Buurtwaglede sê motoriste kan nou weer van die brug oor die spruit op die Maselspoortpad buite Bloemfontein gebruik maak, maar moet net nie vinniger as 40 km per uur daaroor ry nie.
Chappies van Zyl, voorsitter van die Vaalbank-Zuid-buurtwag wat Campleton en Roodewal insluit, sê die brug is Donderdagmiddag oopgestel.
Lede van die woonbuurt sê hulle is groot dank verskuldig aan André Pretorius van Pretorius Plant Hire, Petrus Steyn van Build It en Louis Kruger wat fisiek die gat uitgegrawe het.
“Hulle het ’n reuse-werk gedoen. Ondernemings hier in Roodewal wat swaar gekry het sedert die brug verlede week weens die sinkgat gesluit moes word, het die vrywilligers baie ondersteun.”
Van Zyl sê personeel van Kopano Nokeng, die Irene-supermark, Halfweghuis en Slightly Nutty het vir die vrywilligers op die toneel kos en drinkgoed aangedra tydens die reuse-poging om die brug so vinnig moontlik weer oop te stel. ’n Gat van sowat drie en ’n half meter is uitgegrawe en weer met behoorlike boumateriaal opgevul.
“Die pad moet nou vir sewe dae staan voordat die departement se mense die teer kan kom gooi. Daarom versoek ons motoriste om net 40 km of stadiger oor die brug ry,” vra hy.
“Dit is sodat die bougrond en ander materiaal wat gebruik word oor die volgende sewe dae behoorlik droog kan word.”
Buurtwaglede spreek hul dank uit teenoor Van Zyl en ander omstanders wat hand bygesit het om groot klippe aan te dra en ander hulp te verleen om dié brug so vinnig te kan herstel.