Lede van die gemeenskap help fluks om die groentetuin by Vrystaat-Versorging in Aksie in Watkeystraat uit te brei sodat die sopkombuis wat hier bedryf word, vars groente in hul spyskaart kan inwerk.
Die NG kerk Pellissier het sowat drie jaar gelede ’n groentetuin onder ’n skadunet hier aangelê en vrywilligers bewerk die tuin wat intussen ook met besproeiing toegerus is.
Verder het die Witherow-trust onlangs geld beskikbaar gestel vir planthouers waarin daar nou spinasie en aartappels geplant is.
Personeel van die Hotelskool by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het Vrydag ’n hand kom bysit om skadunette oor die plantbokse op te rig om die jong plantjies teen die son en voëls te beskerm.
Hulle het ook vroeër gehelp om gruis om die plantbokse te gooi en ander instandhoudingswerk daar te doen.
Madelein Krüger, maatskaplike werker en bestuurder by die VVA se Bloemfontein-tak, sê dit is wonderlik dat die gemeenskap so betrokke is om die groentetuin hier uit te brei en in stand te hou.