Gemeenskap neem sake in eie hande

Dit is nie net die honderde plekke waar pype in die stad lek wat inwoners moedeloos laat nie, maar wanneer die spanne van die Mangaung-metro herstelwerk doen, word reuse-gate oral op sypaadjies gelaat wat nooit weer opgevul word nie.


Dit is nie net die honderde plekke waar pype in die stad lek wat inwoners moedeloos laat nie, maar wanneer die spanne van die Mangaung-metro herstelwerk doen, word reuse-gate oral op sypaadjies gelaat wat nooit weer opgevul word nie.

Inwoners van oor die stad heen sit met reuse-gate op sypaadjies voor hul huise en dikwels val versoeke dat die gate opgevul moet word en behoorlike rehabilitasie gedoen moet word vir maande lank op dowe ore.

Jaco Bezuidenhout van die Brandwag-woonbuurtvereniging (BNA) sê daar is ’n maand gelede voor James Scottstraat 10 en 14 in Brandwag ’n lekkende pyp herstel. Die gate is net so gelaat.

Die een was voor ’n gastehuis en het ’n baie swak indruk geskep vir gaste wat daar kom oorbly.

Die BNA het toe ingespring en dié gat opgevul terwyl die inwoners van James Scottstraat 14 self ’n kontrakteur betaal het om die gat voor hul woning reg te maak.

Valerie de Kock van die VF Plus sê daar is baie gate in die suide van Bloemfontein en veral in Fichardtpark en Uitsig waar pype herstel word en die gate nooit gerehabiliteer word nie.

Sy sê wanneer daar aan ’n pyp gewerk is, moet dit ’n paar dae oop staan om seker te wees dat die lekplek herstel is, maar binne ’n week moet ’n span van die Mangaung-metro of die kontrakteur wat daarvoor verantwoordelik is, dan die gat opvul en alles rehabiliteer soos voor die gat gegrawe is.

Dirk Kotzé, ’n DA-wyksraadslid, sê raadslede ontvang daagliks klagtes van inwoners waar onderhoudspanne gewerk het en alles net so gelos is.

“Dit geld plekke waar Centlec elektriese infrastruktuur herstel, waterpype wat bars onder sypaadjies en strate.

“Daar is van die plekke wat al meer as ’n jaar oop staan waar gevaarlike kragkabels en hoëdruk-waterpype lê.”

Kotzé sê daar is talle sulke gevaarlike gate naby skole waar kinders verbyloop.

Bezuidenhout sê op die hoek van Klercklaan en Durandtstraat is ernstige skade aan die padoppervlak by die Laerskool Brandwag aangerig toe ’n massiewe bars in ’n pyp ontstaan het. Herstelwerk is aan die pyp gedoen.

Die gat in die pad en ’n groot hoop grond is net so gelos.

Hy sê kinders moet elke middag in die pad stap om by hul ouers se motors uit te kom.

“Dit skep ’n gevaar vir die kinders.

“So ver ek ry, sien ek oral oor die stad heen gate wat swak afgebaken is en nooit herstel word nie. Die metro maak op die ou end meer skade as die waterlek self en geen poging word aangewend om dit weer in dieselfde toestand te kry as voor die probleem ontstaan het nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.