’n Jaar waarin hulle met “hart” uitreik na en omgee vir kinders en bejaardes, is wat Solidariteit Helpende Hand se Vroue-in-aksie-tak (Via) in Bloemfontein nastreef.
Op ’n vergadering van vrywilligers van die Via-tak op 13 Februarie het Tammy Morey, voorsitter, almal vir hul betrokkenheid by dié tak se projekte bedank.
Kobus Venter, streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat, sê dié organisasie fokus nasionaal steeds met al sy projekte op die verligting, verbreking en voorkoming van nood in die Afrikanergemeenskap.
“Ons wil met projekte die gemeenskap en gesinne in die gemeenskap sterker maak. Dit is meer as net die uitdeel van kos.”
Helpende Hand het in twee jaar meer as 40 000 kospakkies in Bloemfontein uitgedeel. Hy sê Helpende Hand wil ’n beter toekoms verseker met volhoubare projekte soos die Solidariteit-studiefonds en die versorger-kursus wat vanjaar die derde keer in Bloemfontein aangebied word.
Een van die maniere waarop die nasionale Kosblikkie-projek uitgebrei word, is die bekendstelling van Piet Tande wat vir kinders gaan vertel hoe om na hul tande om te sien. Daar is ook Braaf die Boerboel wat vir kinders leer om vir hulself op te staan.
Een van die geldinsamelingsprojekte wat Solidariteit Helpende Hand suksesvol bedryf en wat werk skep, is die Ons Winkel-projek, waarvan twee takke in Bloemfontein is. Hierbenewens neem sewe groepe vrywilligers in die stad Vrydae broodjies na die Laerskool Dr. C.F. Visser, wat ’n voedingskema vir van die skool se behoeftige kinders het. Kinders van Landsdiens gaan ook geld insamel om bejaardes wat dit nie kan bekostig nie te help om kunsgebit te kry.
Vanessa Marais het ook ’n projek om geld in te samel vir volwasse doeke en suurstof vir bejaardes.
Henk Conrey en Candice Weber van die kykNET-program Vat jou goed en Trek trek tree op 22 April om 09:00 op in die M.L. Spies-saal by die Hoër Meisieskool Oranje. Die twee sal wenke en demonstrasies lewer oor hoe om jou huis mooi te maak.
- Die sanger Urnus Human sal optree. Kaartjies kos R350 en sluit verversings in. Rig voor 12 April navrae aan Vanessa Marais by 082-821-1529. Rig navrae oor die werk van die Solidariteit Helpende Hand Via-tak aan Morey by 083-331-1915.