Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het die volwaardige Sonskyn-polisiekantoor in Bloemfontein op Dinsdag 7 Oktober geopen.
Dié polisiekantoor in Fase 5 van Bloemspruit was tot nou toe ‘n satelliet van die Bloemspruit- polisiekantoor, maar die gebied was te groot om tred te hou met die diens wat die polisie hier moes lewer.
Volgens Cachalia is die opening van die ten volle toegeruste polisiekantoor te danke aan die aandrang van die gemeenskap.

“Die nasionale kommissaris van polisie het ‘n pad gevind met die hulpbronne wat beskikbaar was om te voldoen aandrang van die gemeenskap op ‘n veiliger omgewing.”
Dié kommissaris, genl. Fannie Masemola, het gemeenskapslede gewaarsku om nie die nuwe polisiekantoor met geweld te vernietig as hulle nie met die diens tevrede is nie.

“As ‘n gemeenskap ‘n polisiekantoor beskadig, kry hulle nie weer ‘n nuwe een nie,” het hy op die geleentheid gesê.
Die opening van die Sonskyn-polisiekantoor, die eerste in baie jare in die groter Mangaung-omgewing, het saamgeval met die bekendstelling van die polisie se veldtog om ‘n veiliger Kerstyd in te gaan.
Die feestyd-veldtog is Dinsdag by die Dr Rantlai Molemela-stadion bekendgestel.
Masemola het die publiek gewaarsu om nie die gesag van die manne en vroue in blou uniform te verontagsaam nie.
Daarmee het hy verwys na ‘n video van ‘n voorval in Kimberley waar twee mans in hegtenis geneem is vir die aanval op ‘n vroulike polisiebeampte.
“Enigiemand wat probeer om polisiebeamptes te keer om hul mandaat in die voorkoming en bekamping van misdaad uit te voer, sal te staan kom voor die volle mag van die wet,” sê Masemola in ‘n nuusverklaring wat voor die veldtog-bekendstelling uitgereik is.
Hy sê polisiebeamptes is ook moeders en vaders, wat hul gesinne verlaat om hul lewe te waag om wet en orde te handhaaf om te verseker dat almal binne die grense van Suid-Afrika te alle tye veilig is.
“Suid-Afrikaners het ‘n soortgelyke verantwoordelikheid om polisiebeamptes te beskerm en op te staan teen polisie-aanvalle en -moorde. Misdaad kan slegs in ons gemeenskappe uitgeroei word as gemeenskapslede die wet respekteer en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersteun.
“Die verantwoordelikheid van die SAPD is om sy grondwetlike mandaat uit te voer − naamlik om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek; die handhaaf openbare orde; asook die besekerming van die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom.”
Hy sê die polisie se taak is nie maklik nie.
“Terwyl ons voorberei om ons polisiebedrywighede te verhoog om ernstige en gewelddadige misdaad te voorkom en te bekamp, insluitend gewapende rooftogte, transito-rooftogte, geslagsgeweld en alle kriminele aktiwiteite, doen ek ‘n beroep op ons gemeenskappe om met ons polisiebeamptes saam te werk en hulle te beskerm.”





You must be logged in to post a comment.