‘n Nuwe alkohol-en-dwelm-rehabilitasiesentrum open op 6 Januarie in Bainsvlei. Cherut Executive Recovery Estate is ‘n 36-bed-sentrum waar pasiënte in ‘n rustige plaasatmosfeer weg van die geroesmoes van die stad behandeling kan ontvang.
‘n Bekendstelling is op Dinsdag 28 Oktober gehou.
Lee-Ann Uys, een van die stigterslede van Cherut, sê die sentrum bied aan pasiënte ‘n nuwe begin.
“Cherut beteken vryheid in Hebreeus. Vryheid van verslawing. Ons wil vir elkeen wat by ons aankom hierdie vryheid gee om nuut te begin,” verduidelik sy.

Die plaasomgewing gee aan pasiënte rus en vrede waarin ware refleksie en herstel kan plaasvind.
“Daar is oop ruimtes met vars lug, oop hemele en groen velde, wat sal help met die herstelproses.
“Herstel vind plaas wanneer daar ruimte is om asem te haal, en vryheid.
“Hier by Cherut glo ons in ‘n holistiese herstelproses − dit is meer as net terapie. Ons fokus daarop om die liggaam, siel en gees te lei tot genesing deur programme wat vir elke individu ontwerp is, met aktiwiteite en geleentheid vir geestelike groei.”

Die nuwe rehabilitasiesentrum bied goed toegeruste kamers, ‘n eetsaal en ontspanningsgeriewe aan inwoners. ‘n Splinternuwe swembad en konferensiekamer word boonop in die vooruitsig gestel.
“Die herstelproses is uitdagend genoeg,” sê Uys.
“Ons glo nie daarin dat die helingsproses soos ‘n straf moet voel nie. Die landgoed bied ‘n omgewing waar elke pasiënt se waardigheid gerespekteer word.”

Cherut is reeds by siekefondse vir die 21-dag-rehabilitasieprogram geregistreer. Die langtermynrehabilitasiesentrum, wat tot nou in Shannon was, sal in 2026 na Cherut verskuif word.



You must be logged in to post a comment.