Stap in en om Bloemfontein soos die Spice Route by Villa Avianto.


Noudat die seisoen begin draai, het ’n mens al hoe meer rede om tyd in die buitelug aan te gryp. Die dae raak opvallend korter en ’n mens kan die koeler oggende nie meer ignoreer nie.

Hoewel die laatsomer-reënbuie ons nog ’n paar keer sal verras, kan Bloemfonteiners uitsien na heelwat heerlike dae met die ideale weer om hul gunsteling-aktiwiteite te beoefen – of om dit sommer net te geniet om buite te wees.

Vir die wat ’n bietjie iets nuuts wil probeer, asook dié wat eenvoudig ’n nuwe omgewing soek waarin hulle kan doen wat hulle gewoonlik geniet, is daar goeie nuus: Die verskeidenheid is groot, en dit is op jou voorstoep. Benewens die talle geleenthede wat in en om die stad aangebied word, is daar ’n hele paar plekke waar die publiek verwelkom word om te stap, te draf, fiets te ry of selfs die enjins te laat brul.

Hier volg net enkele van die buitelug-doendinge wat aangepak kan word.

* ’n Uitstappie na Stuck in the Mud by Langenhovenpark kan óf ontspanning óf groot opwinding inhou, nes besoekers dit verkies. Stappers is hier welkom, met of sonder hul honde. Bergfietsryers kan ook die ruimte hier kom benut. Die roetes wat hier uitgelê is, maak dit egter die ideale speelplek vir 4 x 4-entoesiaste, asook dié met vierwiel- en veldmotorfietse. Skakel 051-111-0777 vir meer inligting.

* Die Happy Valley-bewarea in Brillstraat, op pad na Oliewenhuis en die Meisieskool Oranje, bied die geleentheid vir voëlkykers, stappers en drawwers om ’n stukkie natuurskoon in die middel van die stad te ontgin. Boonop is die bergfietsroetes wat spesiaal hier uitgelê is – met ’n verskeidenheid bergroete-elemente wat vaardighede deeglik toets – op só ’n goeie peil dat nasionale kompetisies al hier aangebied is. Die bewarea is enige tyd van die dag toeganklik.

* Die Spice Walk, wat verskillende afstande vir stappers en drawwers insluit, kan elke Saterdag van 07:00 tot 13:00 by Villa Avianto afgelê word. Bring die kinders en bring honde (aan ’n leiband) en stap lekker saam. Sluit die oggend af met ’n ontbyt by die Villa Cafe. Rig navrae by 083-329-4872 of rig navrae by info.villaavianto@gmail.com. Gaste kan ook per afspraak in die week hier kom stap.

* Daar is twee geleenthede waar Bloemfonteiners aan die Cityrun kan deelneem. Die eerste is die Cityrun Naval Hill waar hardlopers en stappers elke Saterdag van 06:30 tot 09:00 teen hulself kan meeding of net die natuur geniet met ’n oggendstappie. Skakel 082-920-4639 met navrae.

Die Cityrun Brankop-familielandgoed vind ook Saterdae van 06:30 tot 08:00 plaas. Dié pretloop begin by die Brandkop-familielandgoed – om daar te kom, ry net in Volkspelerylaan in Pellissier aan, verby die afdraai na Bloemwater tot binne die landgoed. Skakel 082-808-6099.

* Daar is twee geleenthede waar aktiewe mense aan die parkrun kan deelneem. Die parkrun in Heidedal vind elke Saterdag van 07:00 tot 08:30 plaas by die Clive Solomon-stadion. Rig navrae by 084-422-4516.

Die parkrun by Brandkop in Pellissier vind tussen 07:00 en 09:00 plaas. Rig navrae by brandkop@parkrun.com.

* Daar is geleentheid vir bergfietsry en stap by Lochshoek Farm For All langs die N8-pad sowat 11 km van Makro af. Die roetes is Maandae tot Sondae oop van 06:00 tot 18:00. Gooi jou toeganggeld van R20 in die eerlikheidshouer by die begin van die roete. Roetes wissel van maklik tot tegnies. Skakel 079-888-2653 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.