Dít was die lekker daarvan.
Al kon ons nie ’n Bok-oorwinning vier nie, kon ’n mens weer saam met ander sing, skreeu en juig; kon die Meksikaanse golf ’n rondte of drie in ’n ampertjies stampvol stadion maak; kon ’n mens byderhand en gewillig wees om vir ’n groepie mense ’n foto te neem sodat almal saam in die prentjie is, ook die ou wie se foonkamera ingespan word; was daar die vermaak van die man ’n paar rye voor jou wat só dans dat hy later sy eie gehoor het en ook die laaitie hier agter jou wat elke nou en dan roep: “Sit my op, coach, ek’s reg!”
Die Springbokke se kragmeting teen Wallis die afgelope naweek in die Toyota-stadion het in ’n nare stukkie geskiedenis ontaard, maar dit sal terselfdertyd onthou word as die dag toe Bloemfonteiners weer skouer aan skouer in dié stad kon “cheer” terwyl twee groot spanne rugby jol.
Ons het mekaar in die rye raakgeloop en heerlik gekuier terwyl ons wag, vertel die stad se mense. Ek het in dié een vasgeloop. Daardie een in die skare was sowaar op TV, het jy gesien?
Een besoeker aan die stad vertel hoe welkom hy gevoel het tussen bedagsame vreemdelinge op die paviljoen, by die badkamers en selfs waar die rokers eenkant gaan staan het.
Ons Bloemfonteiners kan – en gaan ons hierdie week weer só maak?
Dis minimark-tyd, ’n unieke geleentheid om ons in ’n kunstefees-voorsmakie te verlustig.
Nee, dis nie die Vrystaat Kunstefees soos jy hom al die jare in Julie leer ken het nie. Met ander woorde, as die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat dalk nie so bedrywig lyk as wat jy verwag het nie, of as die aantal stalletjies of vertonings jou koud laat: Die bekende lekkerte van ’n volledige feesaanbieding lê vir ons in Oktober voor.
Dit is dan dat die Vrystaat Kunstefees se hooffees vir vanjaar aangebied sal word.
Ook hier, met die winteraanbod, kry ons die kans om van die gaafste dinge in die lewe skouer aan skouer met ander Bloemfonteiners en besoekers aan die stad te geniet.
Gaan stap ’n bietjie tussen ander mense in die sonskyn rond.
Eet ’n ietsie wat maar net nie op enige ander plek so lekker smaak soos wanneer dit by ’n kosstalletjie berei word nie.
Kry jou sit vir ’n vertoning en lag, of huil, met oorgawe saam met die vreemdeling langs jou. Gesels met daardie einste vreemdeling oor die vertoning terwyl julle ná die tyd uitstap, ongevraagd en oorbekend asof julle al jare lank vriende is wat dié soort ding gereeld saam doen.
Gaan sit langbeen op ’n lappie wintergras, ontspan, en maak asof niks of niemand in die wêreld enigiets meer van jou verwag nie – vir daardie rukkie, ten minste.
Die grootste lekkertes kan boonop nie eens voorspel word nie, soos gemoedelikheid ten spyte van ’n geskiedkundige nederlaag of watter ou bekende jy op pad terug motor toe gaan raakloop op die minimark.
Mag jy vriendelik verras word.

