Genootskap verseker toekoms

AfriForum en die Seleka Barolong-gemeenskap het op Donderdag 27 Maart die verdrag van alliansie en bondgenootskap herdenk wat op dié dag 160 jaar gelede,


‘n Besonderse bondgenootskap tussen Afrikaners en die Barolong van Thaba Nchu is verlede week hier gevier.

AfriForum en die Seleka Barolong-gemeenskap het op Donderdag 27 Maart die verdrag van alliansie en bondgenootskap herdenk wat op dié dag 160 jaar gelede, in 1865, tussen die destydse kgosi van Seleka Barolong, kgosi Moroka II, en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) onderteken is.

Van links by een van die grafte is van links Moruti Tshosane, kgosi Gaboilelwe Moroka, moruti Melaletsa, Lazarus Motlhale, Barend Uys, kgosana Mokoto Moroka en Kallie Kriel.

Volgens Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum word dié historiese gebeurtenis geag as die aanvang van formele samewerking en wedersydse erkenning tussen Afrikaners en Seleka Barolong.

Tydens die gedenkgeleentheid is die pas gerestoureerde grafte van die koninklike familie van Seleka Barolong en die monument wat die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering in 1836 in Thaba Nchu herdenk, onthul.

“Die verhaal van die Afrikaners en die Seleka Barolong bevat talle voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking”, sê Uys.

“Die Voortrekkers het Thaba Nchu, die koninkryk van Seleka Barolong, in 1836 bereik en is hier vriendelik deur kgosi Moroka II ontvang. Hy het onder meer osse na A.H. Potgieter se trekgeselskap gestuur sodat hulle na die veiligheid van Thaba Nchu kon terugtrek nadat hulle in Oktober 1836 – na afloop van die aanval op die Voortrekkerlaer by Vegkop, naby die hedendaagse Heilbron – gestrand gelaat is. Die Uys-trek het ook hier in 1837 ‘n eerste rietdakkerkie gebou en vir die eerste keer nagmaal buite die destydse Kaapkolonie gehou.”

Hy sê die Seleka Barolong was, onder leiding van kgosi Moroka II en sy opvolger kgosi Tshipinare, ‘n belangrike bondgenoot van die Oranje Vrystaat en die onderlinge samewerking het die voortbestaan van beide kultuurgemeenskappe verseker. Nadat kgosi Tshipinare in 1884 deur sy halfbroer vermoor is, het die Vrystaat Thaba Nchu geannekseer uit vrees vir moontlike misbruik van die leierskapvakuum deur die koninkryk van Lesotho, die destydse groot opponent van Seleka Barolong en die Vrystaat.

As teken van dankbaarheid vir dit wat Seleka Barolong vir die Afrikaners gedoen het, is bouwerk aan die Ereskuldkerk in 1928 begin. Dié unieke kerk in Thaba Nchu is in 1932 ingewy.

Die goeie verhoudinge en same-

werking tussen Seleka Barolong en Afrikaners is in 2020 hernu, en in die lig daarvan het AfriForum sy steun aan die koninklike familie toegesê in ‘n hofstryd om erkenning teen die destydse provinsiale regering van Ace Magashule.

Sedertdien het AfriForum en Seleka Barolong ook verskeie gesamentlike landbouontwikkelingsprojekte (in samewerking met die familie-boerderynetwerk Saai) en erfenisprojekte aangepak.

Volgens kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap, is dit belangrik om die goeie en die slegte van die verlede te onthou.

“Dit is belangrik dat ons erkenning gee aan ons voorouers wat soveel opgeoffer het om vir ons ‘n toekoms te verseker.

“Ons wil graag die kosbare erfenis en nalatenskap wat ons van hulle ontvang het, in ‘n beter toestand aan die volgende geslag oorhandig. Om in die verlede vas te val, gaan nie die groot uitdagings van armoede, gebrekkige voedselseker-

heid, werkloosheid en misdaad wat ons in die gesig staar, oplos nie. Daarom haal ons die goeie uit die verlede en benut al die innoverings en vennootskappe en fokus ons energie om ‘n mooi toekoms vir ons kinders te verseker.”

Uys sê samewerking tussen kultuurgemeenskappe is belangrik.

“Ons voorouers was wys en het verstaan dat samewerking met ander kultuurgemeenskappe noodsaaklik is vir die voorspoedige voortbestaan van Afrikaners aan die suidpunt van Afrika.

“Ons word opnuut geïnspireer deur die goeie wat in die verlede ontdek kan word, en werk met nederige toewyding om, in N.P. van Wyk Louw se woorde, in geregtigheid hier voort te bestaan.

“Die netwerk van kultuurgemeenskappe, gebou op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, wat op voetsoolvlak gestalte kry, vul ons met hoop vir die toekoms,” sê hy.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook die gedenkgeleentheid bygewoon. Volgens hom bevestig geleenthede soos dié dat goeie verhoudinge tussen verskillende kultuurgemeenskappe op voetsoolvlak bestaan.

“Dit is slegs die elite en politieke leiers wat probeer voordeel trek uit polariserende optrede en uitsprake. Ons kinders is belangrik en daarom sal ons onbeskaamd aanhou werk om vir hulle ‘n toekoms, in vreedsame en voorspoedige naasbestaan met alle kultuurgemeenskappe, in die land te verseker,” sluit hy af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.