Gerief help nuwe ma’s

’n Oornaggerief wat aan nuwe mammas die geleentheid gee om hulle vertroud te maak met borsvoeding, is vandeesweek in Bloemfontein geopen.


’n Oornaggerief wat aan nuwe mammas die geleentheid gee om hulle vertroud te maak met borsvoeding, is vandeesweek in Bloemfontein geopen.

Sr. Vanessa Booysen, wat al 30 jaar spesialiseer in borsvoeding, sê sy het besef daar is ’n groot behoefte onder nuwe ma’s – veral dié wat van die platteland af kom – om hulp te ontvang in die eerste paar dae nadat die baba gebore is.

“In die hospitaal is dinge maar deurmekaar en die mammas word ontslaan nog voordat hulle die tegniek vir borsvoeding behoorlik onder die knie het,” sê Booysen.

Toe sy die geleentheid kry om ’n huis oorkant die Life Rosepark-hospitaal te huur, het sy dadelik die moontlikheid gesien om hier nuwe ma’s te help. Toe sy haar voorneme op Facebook aankondig, het mense dadelik gereageer en vir haar gordyne vir die gastehuis, asook ander toebehore, babakomberse en ’n baba-mandjie geskenk.

“In al die jare waarin ek op borsvoeding fokus, het ek nog nooit ’n nuwe mamma gekry wie se baba reg drink nie. Hulle het hulp nodig om borsvoeding en die proses te verstaan.”

Sy sê nuwe ma’s is senuweeagtig en dink gou hulle kan nie borsvoed nie en dat hulle vinnig moed opgee. Booysen sê net met enkele uitsonderings kan vroue dit nie doen nie.

Sy gaan nie net verblyf verskaf vir ma’s wat uit die hospitaal ontslaan word nie, maar ook vir dié wie se babas in die neonatale intensiewesorgeenheid lê. Dit sal nou nie net nuwe ma’s in Bloemfontein wees wat by haar hulp kan kry nie, maar veral dié van buite Bloemfontein waar daar nie hulp beskikbaar is nie. Sy wil ook meer werksessies aanbied waar swanger vroue meer kan leer oor borsvoeding.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.