Watervlakke langs die Modderrivier naby Maselspoort het Maandag (11/04) tot 3 m gestyg. Teen Dinsdag het die hoë vlakke egter gesak.
Talle afdakke en huise langs die rivier en by Sunset River Resort was onder water ná die naweek se reën.
Dit het Saterdag tot Maandag ongeveer 100 mm hier gereën, terwyl dit nog meer in die opvangsgebied bo die rivier gereën het. Van die huise by die oord was Maandag kombuiskashoogte onder water. Een inwoner het ’n video gemaak van hoe haar tuinstel in die rivier dryf.
Reg Krohn, eienaar van die restaurant by Maselspoort, sê die water was Maandag hoër as vorige kere vanjaar.
“Talle plekke is onder water, selfs as dit nou net liggies reën,” sê hy.
Sy een konferensiekamer is reeds die sewende keer vanjaar onder water.
“Dit gebeur omdat die munisipaliteit nie die sluise wil oopmaak nie.”
Hy sê die Mockesdam is 90% toegeslik, wat veroorsaak dat baie meer water in die Modderrivier afvloei.
Die trappe aan die rivierkant van die Maselspoort-kompleks, waar die restaurant en konferensiekamers is, was Maandag halfpad onder water.
Luidens ’n verklaring deur die Mangaung-metro het die water Maandag oor die damwal gevloei.
“Die R64 tussen Bloemfontein en die Krugersdrifdam was op verskeie plekke onder water,” sê Henk Smit van die Bainsvlei-inwonersforum.
’n Laagwaterbrug by Glen het ook skade opgedoen weens die hewige vloei van die Modderrivier en Renosterspruit wat hier bymekaar kom.
Volgens Rossouw Botes, DA-raadslid, het hy sedert Oktober meer as 700 mm reën gemeet. Dit terwyl Bloemfontein se gemiddelde reënval per jaar net meer as 545 mm is. Hy sê die sluise in die damwal by Maselspoort is nie in stand gehou nie en werk nie.
“Ek waarsku al lankal dat hier ’n krisis kom. Daar is maniere waarop die sluis weer reggemaak kan word sodat water deurgelaat kan word wanneer die rivier afkom.”