’n Geselligheid wat op Donderdag 20 Februarie ten bate van die welsynsorganisasie Food4Kidz by die Monte Bello aangebied is, het ’n goeie bydra gemaak om behoeftige kinders in Bloemfontein van etes te voorsien.
André de Jager, een van die trustees van Food4Kidz, sê R56 000 is ingesamel met die verkoop van kaartjies, skenkings en artikels wat onder die hamer gekom het.
Tydens die geselligheid het De Jager en ds. Marius Jacobs, een van die ander trustees, gesê daar is 282 kinders in vyf skole in die stad wat gekookte etes danksy Food4Kidz ontvang.
Food4Kidz bestaan al die afgelope 13 jaar met die uitsluitlike doel om gratis, voedsame etes te verskaf aan kinders wat dit regtig nodig het.
Uitgesoekte leerlinge van die Laerskool Bloemfontein, die Hoërskool Bloemfontein, die Laerskool Sand du Plessis en die Laerskool Onze Rust kry daagliks ’n gekookte ete wat by Food4Kidz se kombuis op die skouterrein gemaak en in kosblikke verpak word om by die skole te gaan aflaai.
Leerlinge wat deel is van die voedingsprogram by die Laerskool Dr. C.F. Visser, kry ook Donderdae danksy Food4Kidz ’n gekookte ete.
Vrydae kry die kinders nagereg wat bestaan uit ingelegte vrugte (nou is dit pere) en vla.
De Jager het op die geselligheid sy dank betuig teenoor almal wat so getrou voorraad aan die organisasie skenk.
Riekie Venter, skoolhoof by Dr Visser, sê hierdie etes is dikwels die enigste wat kinders in ’n dag ontvang.
“Die gereelde kos wat kinders danksy vrywillige programme soos Food4Kidz ontvang, maak ’n groot verskil om kinders energie te gee sodat hulle kan fokus op skoolwerk en so kan leer,” het sy op die geleentheid gesê.
Sy sê daar is 85 kinders by dié skool wat daagliks etes by verskillende organisasies ontvang.
Food4Kidz bereken die koste per kind per maaltyd op ongeveer R25 wat beteken dat dit ongeveer R500 kos om een kind per maand te voed.
Benewens kontantskenkings, kan mense ook voorraad soos mieliemeel, rys, macaroni, kookolie en maalvleis skenk.
Besoek die Facebook-blad Food4Kidz om by dié organisasie betrokke te raak.