Tannie Corrie Jacobs van Tergniet het sowat 115 vierkante vir die Brei vir Bloem-projek gebrei.


’n Gesiggestremde vrou van Tergniet in die Wes-Kaap, wat behoorlik met breipenne woeker, het meer as 100 vierkante vir die Brei vir Bloem-projek gebrei.

Brei vir Bloem is ’n projek van Bloemskou,Bloemnuusen Radio Rosestad, wat saamwerk om komberse vir liefdadigheid te laat maak.

Mense is gevra om vierkante van 140 mm x 140 mm vir dié projek te brei, hekel, kwilt of weef. Dit word dan gebruik om komberse van 140 cm x 140 cm te maak. Voltooide vierkante kan nog tot 31 Maart ingegee word.

Die sowat 115 vierkante wat Corrie Jacobs (85) van Terg­niet, naby Groot-Brakrivier, oor vyf of ses weke gebrei het, het Saterdag (18/03) in Bloemfontein aangekom. Jacobs, wat brei vandat sy omtrent sewe jaar oud was, sê sy is “permanent aan die brei”.

Dié ouma van ses kleinkinders en nege agterkleinkinders sê sy brei graag vir hulle truie, slaapsokkies en musse.

Sy het by haar oorlede suster Mynie Hetzel se kleinkind Michael Hetzel van die projek gehoor en dadelik aan die werk gespring.

“Ag dis vir my lekker, want ek brei vreeslik baie. Toe Michael vir my daarvan sê, het ek juis nie regtig iets gehad waarmee ek besig was nie. Daarom kon ek dadelik begin,” vertel Jacobs oor haar bydrae.

Sy sê sy het nie dié vierkante gebrei om gesien te word nie, maar om haarself besig te hou. Hetzel, bestuurder van die onthaalplek Leopards and Lace in Bloemfontein, sal die vierkante namens haar ingee.

Hetzel sê hy bewonder Jacobs vir alles wat sy ondanks haar gesiggestremdheid verrig.

Jacobs is die jongste en enigste oorlewende van nege kinders en het op ’n plaas in die Christiana-distrik, aan die Vrystaat-kant, grootgeword.

Sy en twee van haar sibbe is gesiggestremd gebore en hul sig het oor die jare al hoe swakker geraak.

Jacobs, wat tans net effens kan sien, was destyds in die Pionierskool in Worcester.

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, het Jacobs Maandag (20/03) by haar huis vir haar bydrae bedank.

Prinsloo het ’n blaaskans in Tergniet geneem.

Die Brei vir Bloem-projek is as deel van Bloemskou se afdeling vir kreatiewe handwerk en kuns ter viering van die skou se 140ste bestaansjaar begin.

Volgens Prinsloo is die deelname aan die projek oorweldigend en is daar teen Maandag minstens 5 200 vierkante ontvang (Jacobs s’n uitgesluit) en daar was teen Woensdag reeds sowat 52 voltooide komberse wees.

Altesaam 100 vierkante word vir elke kombers gebruik.

Die komberse sal aan Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds en Radio Rosestad se kombersprojek geskenk word.

  • Mense kan nog tot 31 Maart voltooide vierkante by Bloemskou se kantoor, Bloemnuusse ontvangstoonbank in die Koupis-gebou by Pres. Reitzlaan 107 of by Radio Rosestad ingee. Kontak Bloemskou by 051-448-9894 met navrae.

Marita Herselman

You need to be Logged In to leave a comment.