Die nood in die Vrystaat tref al hoe meer gesinne, en om kos te koop is een van die grootste uitdagings vir mense wat geldelik swaarkry.
Só sê De Wet Claassens, uitvoerende
hoofdirekteur van Engo, met die ontvangs van ‘n groot skenking van Human Auto Bloemfontein.
As deel van Ford se internasionale Global Giving-program is ‘n skenking van R26 000 gedoen waarmee kos vir behoeftige gesinne gekoop kan word.
Die kos gaan in ongeveer 50 pakkies verdeel word en by klinieke in Bloemfontein versprei word om verligting te bring by gesinne wat dit benodig.

Claassens bevestig skenkings soos dié maak ‘n groot verskil.
“Dit is soos ‘n veldbrand. Een mens word gevoed, en die goeie storie herhaal homself.”
Engo bedien jaarliks meer as 200 000 mense in die Vrystaat. Engo Gesinsorg is een van sewe afdelings binne Engo en het tien kantore in 11 dorpe in die Vrystaat.
Alle bedrywighede in dié program word deur 26 maatskaplike werkers en 25 hulp- maatskaplike werkers bestuur.
Die program het in die afgelope jaar hulp ter ondersteuning van basiese behoeftes aan 8 723 mense verskaf. As deel van die program is 205 kinders in veilige sorg geplaas.
In die afgelope jaar het Engo se Gesinsorgdienste 89 458 mense bereik.
Kaartjies vir die trekking om ‘n Renault Kwid Climber in Engo se Projek van Hoop te wen is nog tot 30 September beskikbaar deur ‘n skenking van R50 te doen.
Gaan na engo.co.za en klik op die skakel na die aanlyn winkel vir ‘n R50-kaartjie.
Skenkings hiervoor kan ook gedoen word by Engo se programme oor die Vrystaat heen en oral waar die Renault Kwid Climber by ‘n Engo-stalletjie by winkelsentrums en op feeste en markte vertoon word.
Die wenner word op 31 Oktober aangekondig.
Vir meer besonderhede oor die Projek van Hoop, of om betrokke te raak, stuur ‘n e-pos na info@engo.co.za of skakel 060 548 5543.




You must be logged in to post a comment.