Talle versamelaars het Saterdag (24/06) op die plaas Leeuberg buite Bloemfontein verskillende uniforms uit die Tweede Wêreldoorlog gedra tydens die jaarlikse herdenking van Operasie Barbarossa.
Lede van die Suid-Afrikaanse Vuurwapen en Ammunisieversamelaarsvereniging (SAAACA) van oor die land heen het die nabootsingsdag bygewoon.
Colin Steyn, op wie se plaas die jaarlikse byeenkoms plaasvind, het sy dank uitgespreek teenoor lede van Pantserskool se Pantsermuseum wat gehelp het om ’n tenk uit die Tweede Wêreldoorlog weer aan die gang te kry nadat dit ’n paar jaar gestaan het.
Die Russiese T-34 tenk is Saterdag om 12:00 aangeskakel, en toeskouers by die nabootsingsgeleenteid kon sien hoe die tenk ’n ent op die plaas ry.
Steyn vertel dié tenk het ’n interessante geskiedenis. Dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Oosfront gebruik.
Die merk is nog te sien waar die tenk raakgeskiet is.
Rusland het jare ná die oorlog die tenk aan die Angolese leer verkoop, wat dit tydens die grensoorlog teen die Suid-Afrikaanse magte ingespan het.
Die Suid-Afrikaanse weermag het die tenk in Augustus 1981 raakgeskiet en van die Angolese magte afgeneem. Dié merke sit ook steeds aan die tenk.
Frik van Niekerk, wat tydens die gedenkdag die uniform van ’n divisie-kapelaan van die Duitse Afrika-korps gedra het, het hulde gebring aan al die soldate wat gesterf het deur te veg vir dit waarin hulle geglo het.