Terwyl werk voortduur aan die Arboretum-reservoir waar water in strome in die stormwaterkanaal in Albrechtstraat wegspoel, is raadslede van die Mangaung-metro moedeloos oor die stadige pas waarteen varswaterlekplekke hanteer word.
DA-raadslid Hennie van Niekerk sê talle strate in Bloemfontein is in ’n skokkende toestand weens waterlek-plekke wat die teer uitkalwe en die padoppervlak beskadig.
Hy sê daar is net een span in die stad met ’n voertuig wat die waterlekplekke kan regmaak.
“Dit veroorsaak dat water lank lek en skade aanrig.”
Die toedrag van sake is soveel erger siende dat die stad jaarliks meer as R455 miljoen se waterverliese het.
Van Niekerk sê in wyk 26 was nege plekke waar dit lank gelek het – en by dié lekplekke wat uiteindelik reggemaak is, is die gate nooit opgevul nie. “Wanneer lekplekke aangemeld word, neem dit weke voordat dit reggemaak word,” sê Van Niekerk.
“In Wilgehof is die afgelope jaar ses lekplekke aangemeld.
“Volgens die metro is die rede dat daar nie vinnig gereageer word nie, die tekort aan hulpbronne en veral voertuie.”
Hy sê in 2023 is een groot lekplek aangemeld waarvoor die herstelwerk twee maande lank gesloer het.
“Dit het daartoe gelei dat ’n groot slaggat gevorm het wat nooit opgevul is nie. In April vanjaar het die lek weer begin en dit het twee maande geduur voordat die munisipaliteit dit reggemaak het.
“Vroeg in Junie het die algemene bestuurder van die metro se water-afdeling beloof om ’n kontrakteur te stuur om die lekplek en die slaggate daarom reg te maak. Steeds is niks aan die saak gedoen nie.”
Van Niekerk sê Daniel van Niekerkstraat waar een van die lekplekke was, is vol slaggate.
“Ons as die DA vra dat die munisipaliteit onmiddellik ’n kontrakteur aanstel om aandag aan hierdie probleme te gee. As dit nie herstel word nie, sal dit lei tot verdere skade en toenemende koste.
“Ons sal druk plaas op die metro om waterlekplekke en slaggate so gou moontlik te herstel om water in Wilgehof en omgewing te bespaar en om padveiligheid te verbeter.”
– Lientjie Mentz