Hulle het al hul pienk skuifspeld geruil tot hulle nou spog met ‘n koswaentjie. Nou nog net so een of twee goeie ruilooreenkomste, dan spog hulle met ‘n groot genoeg motor vir een van Therapéa se kinderhuise in Bloemfontein.
Franco van der Vlies en Jeandré van der Merwe het op Vrydag 11 April met ‘n Pink Paperclip-uitdaging begin waar mense op ‘n TikTok-video genooi word om dié skuifspeld vir iets te ruil.
Die Tiktok-video het soos ‘n veldbrand versprei en sommer gou het hulle die skuifspeld geruil vir ‘n knipmes. Die knipmens is daarna geruil vir ‘n rekenaarmuis.
Kort voor Paasnaweek het Franco ‘n oproep ontvang van iemand wat die nuutste ruiling wou maak en nou staan die uitdaging op ‘n koswaentjie. Wie wil ‘n koswaentjie ruil vir ‘n sewe-sitplek motor?
“Ek glo vas ons is op pad pad na ‘n Volkswagen Caddy waaroor ons droom,” sê Franco. “Die Bybel sê as jou geloof so groot soos ‘n mostertsaadjie is … wel ons het begin met ‘n skuifspeld en kyk waar is ons nou!.”

Therapéa Kids in Bloemfontein het twee jeugsorgsentrums – een vir hoërskoolmeisies en die nuutste een wat in Desember geopen is, vir laerskoolmeisies.
“Daar het in ‘n kort tydjie drie babas en twee kleuters by die nuutste kinderhuis aangekom,” verduidelik Franco, een van die jeugleiers by die kerk. Die jeugsorgsentrum huisves nou 13 meisies van laerskool-ouderdom tot net enkele weke oud.
“Dit is baie moeilik vir tannie Therese van Zyl om die kinders rond te ry – sy gebruik nou haar eie Volkswagen Polo daarvoor. Dié huis het dringend ‘n groter voertuig nodig en ek en Jeandré het besluit om iets aan de saak te doen.”
Die rooi koswaentjie het ‘n bietjie werk nodig, maar is ten volle gelisensiëer en het die nodige papiere, sê die twee wat trots is op waar hul projek nou staan. “Iemand wat graag met sy eie wegneemete-onderneming wil begin, sal baie nut hê vir dié koswaentjie,” sê Jeandré.
Sien die video’s van die twee se Pink Paperclip Challenge op TikTok of kontak Franco by 062 917 3159
You must be logged in to post a comment.