Gestorwenes saam onthou

Die plaaslike bomgat (“shellhole”), soos dit bekend staan, van die George Coombs Memorable Order of Tin Hats (Moths) hou op 13 November ’n kransleggingparade op die Tempe-weermagbasis as deel van dié lede se viering van Herinneringsdag, oftewel die b


Die plaaslike bomgat (“shellhole”), soos dit bekend staan, van die George Coombs Memorable Order of Tin Hats (Moths) hou op 13 November ’n kransleggingparade op die Tempe-weermagbasis as deel van dié lede se viering van Herinneringsdag, oftewel die bekende internasionale Remembrance Day.

Herinneringsdag of Wapenstilstanddag is die dag waarop die Eerste Wêreldoorlog in 1918 geëindig het.

Mense oor die wêreld heen neem om 11:11 op die 11de dag van die 11de maand twee minute van stilte om diegene te onthou wat in gewapende konflik van enige aard gesterf het.

Die eerste stilte van twee minute is in 1919 waargeneem toe koning George V dit versoek het ter eer­biedige herinnering aan diegene wat in ’n oorlog gesneuwel het.

Indien die dag op ’n weeksdag val, word dit tradisioneel op die Sondag die naaste aan daardie dag gevier – daarom vanjaar op 13 November.

Herinneringsdag gee aan kamerade, vriende en familie die geleentheid om diegene te onthou wat hulle in konflik verloor het, asook die geleentheid om hulle te eer en te respekteer deur ’n kranslegging.

Daar is gewoonlik seremonies by oorlogsgedenktekens, senotawe, kerke, skole en ondernemings.

Papawers (“poppies”) is blomme wat daarvoor bekend is dat dit op die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog gegroei het. Die rooi hiervan is aangeneem as simbool van hoop ná die konflik. Die blomme word reeds sedert 1920 as ’n simbool gebruik. Dit is ook hoekom Herinneringsdag algemeen as Poppy Day bekend staan.

Rynoe Smith van die George Coombs Moths sê die publiek word genooi om die parade en seremonie op 13 November by die 1SDB-paradegrond op die Tempe-weermagbasis by te woon.

Daar sal stalletjies met eet- en drinkgoed wees.

Oorlogveterane of vriende of familie van gesneuwelde soldate kan op daardie dag ’n krans lê.

Veterane en Veterane-organisasies wat aan die parade wil deelneem, kan die George Coombs Moths ook vir meer besonderhede kontak, hoewel uitnodigings aan baie van die veterane-organisasies gestuur is.

“Ons wil ook alle veterane wat in militêre konflik aktiewe diens gedoen het, nooi om hulle by die Moths aan te sluit. Lede van die publiek wat ’n militêre belangstelling deel, kan ook as Ondersteuners of Vriende van die Moths aansluit.

“Ons kom maandeliks bymekaar waar ons saamkuier en staaltjies uit die oorlogsjare deel.”

Enigeen wat in die krans­legging­parade belang stel, of wat hulle as ’n lid by die George Coombs Moths-bomg­at wil aansluit, kan Tommy Lessing by 072-790-3005, Barries Barnard by 083-407-1129 of Smith by 082-453-3320 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.