Die slaggat in Paul Krugerlaan naby die verkeersirkel was baie gevaarlik. Dit is ook nou herstel.Foto: Verskaf


Die Universitas- en Parkwes-woonbuurtverenigings het Donderdag (16/03) met die hulp van NewGen Fibre Solutions twee gevaarlike slaggate in Universitas herstel.

Veral die slaggat in Paul Krugerlaan wat swaar verkeer dra, het groot gevaar vir motoriste ingehou en talle motorbande is hier beskadig. Die slaggat was in de regterkantste baan kort voor die verkeersirkel en motoriste wat nie van die gat geweet het nie, moes gereeld uitswaai om nie daarin te land en hul motors te beskadig nie.

Dié slaggat, asook die een in Benedicktus Kokstraat, skep al vir jare probleme.

Tjaart van der Walt en ander DA-wyksraadslede in dié omgewing, sê hule is dankbaar vir die werk deur inwoners en sakelui wat help om die probleme hier op te los.

Veral in Benedicktus Kok het inwoners tydelike oplossings uitgedink om die gevaarlike gat veiliger te maak deur bourommel daarin te gooi. Dit is egter eers nou danksy die hulp van NewGen dat die pad weer veilig is vir motoriste.

Van der Walt sê die gat in Paul Kruger skep al sedert Oktober 2021 groot probleme en klagtes oor Benedictus Kok kom al van begin 2020.

Die tydelike herstel van die reuse-gat wat lank in Benedictus Kokstraat was.Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.