Die hele drama van hoe ses jong mense gisteraand in ’n kerk in Fichardtpark in Bloemfontein deur twee mans beroof is, is op kringtelevisie vasgelê.
“Dit is net die Here se genade dat dinge nie lelik skeefgeloop het nie,” het Franko van der Vlies van die jeuggroep Herleef vandag oor hul nagmerrie-ondervinding gesê.
Die orkes het gisteraand 20:00 in die Therapéa Volle Evangelie kerk op die verhoog geoefen terwyl nog ’n groep dansers in die kerksaal was. Omdat daar groepe was wat by die kerk bedrywig was, het die hek en die deure oop gestaan.
Kort voor die einde van Herleef se oefening en net nadat die ander mense wat in die saal was vertrek het, het twee mans skielik by die kerk ingekom.
“Toe die twee mans met balaklava’s daar inkom, het ons eers gedink dit is ’n grap.,” sê Franko. Die volgende oomblik het een ’n pistool uitgehaal en dit in die lug gehou.”
Hy sê die twee het op hulle begin skreeu “get down”.
Franko sê een van die groeplede Chris Venter het dadelik sy meisie wat die tromme speel, Lene Ludick, probeer beskerm deur met haar van die verhoog af na die bidkamer agter die verhoog te vlug. “Die een met die pistool het agter hulle aangestorm,” vertel Franko.
Die man voor die verhoog het probeer om een van die monitors te gryp en toe besef dat dit aan die verhoog vasgemaak is.
Franko se broer, Rikus, wat ook in die orkes speel, het van die verhoog af gehardloop, ’n oomblik in die rigting van die tweede aanvaller gemik, en toe uit die kerk gehardloop om by die Therapéa-kinderhuis oorkant die kerk te gaan hulp kry. Die man voor die verhoog het op die verhoog geklim en die groeplede beveel om hul selfone te oorhandig, wat Franko toe gedoen het.
“Toe hy my selfoon vat, het hy die laptop in my sak gesien en dit ook gegryp,” vertel Franko.
Intussen het die eerste aanvaller uit die bidkamer gekom en na Melanie van Niekerk by die klankstasie gegaan. Franko vertel die aanvaller het haar agter die kop met die pistool geslaan. Daarna kan ’n mens op die video sien hoe die rower by die klankstasie na nog iets soek om te steel voordat die twee uit die kerk vlug.
Franko sê hy weet nie wat hy gedink het nie, maar hy het ’n mikrofoonstaander gegryp en agter die rowers aangestorm. Hy vertel die twee rowers het by ’n derde persoon in ’n silwer Volkswagen Polo gespring en weggejaag.
Die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) se patrolleerders en AfriForum was blitsig op die toneel en die polisie kort daarna.
Jacques Meiring, algemene bestuurder van die FWA, sy hy het in die vroeë oggendure na FichNet se kantore gegaan.
Die FWA het kringtelevisiekameras wat nommerplate by al ses toegange na Fichardtpark monitor. Die beeldmateriaal is aan die Parkweg-polisie oorhandig wat die ondersoek na die rooftog doen.
Meiring waarsku mense wat veral na-ure by kerke en ander openbare plekke vergaderings hou, om waaksaam te wees.
“Mense in relatief veilige woonbuurte soos Fichardtpark, raak soms in ’n gemaksone. Dit is ’n vals veiligheid.”
Hy sê dit is die eerste keer in die byna nege jaar waarop hy in Fichardpark bly, dat so iets gebeur.
“Dit is kommerwekkend. As so iets eers een keer gebeur, kan dit weer gebeur by ’n ander kerk of openbare plek. Veral in hierdie tyd van die jaar, neem misdaad toe,” het hy gewaarsku.
Franko sê hoewel hulle baie dankbaar is dat almal veilig is, is dit vir hulle belangrik dat mense weet wat gebeur het, sodat hulle kan voorsorgmaatreëls tref en veilig is.
Melanie het harsingskudding opgedoen toe die rower haar agter die kop geslaan het, maar die groeplede is almal ongedeerd.