Vier gewapende mans het op Donderdag 6 November die Talk2Me Vodacom-winkel in Pres. Steynstraat, Westdene, beroof.
Gerda le Roux, eienaar van die winkel, sê ‘n man met ‘n DSV-glimbaadjie en ‘n gesigmasker het die oggend om 09:10 by die winkel ingestap. Nóg ‘n man was reg agter hom.
Die man met die glimbaadjie wat die idee gegee het dat hy vir ‘n koerieronderneming werk, het met een van die personeel begin gesels oor kontrakte terwyl die ander man in die winkel rondgestaan het. ‘n Derde man het kort daarna by die deur van die winkel ingestap en ‘n pistool oorgehaal. Nog ‘n rower het ingestap en hulle het die drie mans en nog drie vroue na die kombuis geneem waar hul hande met kabelbinders vasgebind is.

Le Roux wat in haar kantoor langs die winkel gesit het en alles sien gebeur het, het onder haar lessenaar ingeklim en die paniekknoppie gedruk.
“Die deur het agter hulle toegegaan en hulle het een van die vroue gedwing om vir hulle oop te sluit. Ons het heelwat voorraad gehad omdat dit Vrydag ons Black Friday-aanbiedinge was,” vertel Le Roux.
Binne agt minute het die rowers al die voorraad geneem.
‘n Veiligheidswag wat op Le Roux se oproep gereageer het, het gesien hoe die verdagtes na ‘n wit Volkswagen Caddy gaan en bokse inlaai. Een van die rowers het die veiligheidswag by die winkel ingedwing en sy Glock-dienspistool met ‘n magasyn met 17 rondtes gesteel.
Le Roux sê die sekuriteit was vinnig op die toneel en die polisie het na die rowers begin soek. ‘n Polisiehelikopter het daarna lank oor Westdene gevlieg op soek na die verdagtes, maar sover bekend is niemand is in hegtenis geneem nie.
Le Roux sê dit is die vyfde keer dat haar winkel beroof word.
“Die rowers het vir die personeel gesê hulle het nie nodig om bekommerd te wees nie. Hulle het gesê hulle sal nie seerkry nie en dat die winkel versekering het om nuwe voorraad te koop,” sê sy.
“Ek is net so dankbaar dat almal ongedeërd is.”
Lt. kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê ‘n saak van roof en roof met ‘n vuurwapen is by die Parkweg-polisiekantoor geopen.
Enige lid van die publiek wat die polisie kan help met die ondersoek, word versoek om kol. Msokoli Bolsick by 082 466 8530 te bel, of die Crime Stop-nommer 08600 10111 te skakel.



You must be logged in to post a comment.