Die polisie in Bloemfontein is op soek na ongeveer agt verdagtes wat gister ongeveer 18:00 die Woolworths-winkel in die Loch Logan-waterfront beroof het.
Die agt mans het om 18:00 in die winkel ingegaan en uitstalvensters met hammers stukkend geslaan en daarna duur parfuum, sonbrille en klere gesteel.
Lt.kol Thabo Covane sê in ’n nuusverklaring ooggetuies sê die groep het in twee verdeel. Een het in die rigting van die uitgang in Kingsway gestorm terwyl die ander in die rigting van die Bloemspruit-tonnel wes van die inkopiesentrum gevlug het.
Covane sê die groep wat na die tonnel gevlug het, het ’n vrou van haar besittings beroof.
’n Lid van die departement van korrektiewe dienste wat van diens af was en die rooftog gesien het, het tussenbeide probeer tree.
Een van die aanvallers het ’n vuurwapen op hom gerig en na hom geskiet. Hy is skrams teen die voorkop getref. Die verdagtes het daarna sy vuurwapen en ammunisie gesteel voordat hulle weggehardloop het en in die tonnel verdwyn het.
Die groep wat in die rigting van die uitgang by Kingsway gehardloop het, het een van die veiligheidsbeamptes aangehou en hom gedwing om die ingang vir hulle oop te maak. ’n Konstabel (41) van die Mangaung Metro se misdaadvoorkomingseenheid het op die toneel in Kingsway aangekom om ondersoek in te stel. Die rowers het op die konstabel begin skiet en hom in die regter heup gewond.
Hy het probeer om van die toneel weg te kom om hulp te kry, maar het in die proses sy bewussyn verloor.
Covane sê die rowers het te voet en per motor in verskillende rigtings gevlug.
Albei gewondes is in ’n Bloemfonteinse hospitaal opgeneem vir behandeling.
Klagte van roof, poging tot moord en poging tot roof met ’n vuurwapen is by die Parkweg-polisiekantoor ingedien en die polisie ondersoek die voorval.
Lede van die publiek wat meer inligting het om die polisie met die ondersoek te help, kan kol. Msokoli Bosiel by 082-466-8530 bel of die inligting via die polisie se MYSAPS-toepassing stuur of die SAPD se Stop Misdaadnommer by 086-00-10111 skakel.
Meryl Henning, woordvoerder vir die Loch Logan-waterfront, het vanoggend bevestig dat dié winkelsentrum oop is vir sake.