BLOEMFONTEIN – Die gewilde musikant Dugulth Ferreira (29), bekend as Junior King, is vanoggend om 07:25 op die N1-snelweg naby Verkeerdevlei in ‘n motorongeluk dood.
Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê die motor waarin hy gereis het was in ‘n botsing van voor met ‘n ligte vragmotor betrokke.
King, van Gqeberha, is op die toneel dood. Drie passasiers wat in die ongeluk was, is na die Pelonomi-hospitaal se trauma-afdeling in Bloemfontein gebring vir behandeling.
Noodwerkers op die toneel sê die grys Volkswagen Polo TSI waarin King ‘n passasier was, het op die N1 suid in die rigting van Bloemfontein gereis. Die vragmotor was in in ‘n noordelike rigting o pad toe die ongeluk gebeur het.
Luncinda Windvogel het namens die familie ‘n verklaring uitgereik waarin sy bevestig dat Dugulth “Junior King” Ferreira vanoggend op die N1 in ‘n ongeluk dood is.
Daar was vier passasiers saam met die bestuurder in die Polo. King was op die sitplek agter die bestuurder, saam met twee kinders. Die twee kinders asook passasier op die voorste sitplek is na die hospitaal geneem.
Die bestuurder van die Polo en die bestuurder van die vragmotor was ongedeerd.
Covane sê die pad is reeds vir verkeer oopgestel.

King was op pad na Wellington en Oudtshoorn waar hy die naweek saam met Kayla Peters sou optree.
Die kletsrymer het bekendheid verwerf op TikTok met sy flink-voetige dansies. Hy het die afgelope jaar opgang gemaak as een van Suid-Afrika se beste kletsrymers en was deel van ‘n duo saam met Kay Medusa, oftewel Kayla Peters.
Hy het op 5 Desember sy nuutste album, The Revenge Album, bekend gestel.
King het Woensdag op Facebook gesê dat sy video “Noba Wie sê Wat” met Jaakie op 100 000 kort van 1 miljoen “views” was.
Windvogel sê in die verklaring Junior King was ‘n geliefde seun, pa, broer en kunstenaar wie se talent en energie talle lewens aangeraak het. “Hoewel ons treur, wil ons die publiek verseker dat sy kinders veilig is. Die twee ander passasiers wat saam met hom in die ongeluk was, word in die hospitaal behandel. Ons vra dat almal aan hulle dink terwyl hulle herstel.”
Sy sê King se nalatenskap as kunstenaar en kulturele stem sal in die harte van almal wat hom ken voortleef.
Huldeblyke vir die geliefde kunstenaar stroom reeds in. Chad Kramer, die woordvoerder van die minister van sport, kuns en kultuur het op Facebook gesê mense moet ondersteuning, liefde en respek aan sy familie betoon.
Radio-omroeper Yuzrig Main Meyer van Bush Radio sê hulle het onlangs ‘n potgooi opgeneem wat vandag uitgesaai sou word.
“Ek het pas die nuus gekry dat hy dood is en van sy kinders in die ongeluk. So jammer om te hoor.”
DJ Ice Flake sê King se dood is ‘n massiewe terugslag vir die vermaaklikheidsbedryf.
“Sy energie, talent en teenwoordigheid sal baie gemis word.”
‘n Saak van strafbare manslag is by die Verkeerdevlei-polisiekantoor geopen.








You must be logged in to post a comment.