Op die oorhandiging van die skenking is van links Jaco Peyper, Rikus Kruger (albei van Nashua) en De Wet Claassens (Engo). Foto: Lientjie Mentz


Ná ’n uiters suksesvolle gholfdag wat Nashua Bloemfontein op 13 April aangebied het, is R403 150 Vrydag (23/06) aan Engo oorhandig.

Dit was vanjaar die vierde keer dat Nashua ’n gholfdag ten bate van Engo aangebied het. Boonop was dit ’n hoogtepunt vir Nashua, wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier en ’n rekordbedrag aan Engo kon oorhandig.

Rikus Kruger, aandeelhouer van Nashua Vrystaat, Noord-Kaap en Lesotho, sê hulle het Engo oor die jare heen leer ken, en hulle begryp wat dié organisasie alles doen.

“Ons verstaan wat hulle vir minderbevoorregte kinders, gesinne, gestremdes en bejaardes doen. Ons het ook Engo se uitdagings begin verstaan en besef hoe ’n groot verskil Engo in mense se lewe kan maak met geld wat ingesamel word,” meen Kruger.

Op sy beurt sê De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo, hulle is dankbaar vir hierdie groot bydrae.

“Ons gaan ’n gedeelte van hierdie geld gebruik om ’n bussie te koop wat gebruik kan word om dienste aan kinders, gestremdes en ouer mense in die gemeenskap te lewer.”

Geld van verlede jaar se skenking ná die Nashua-gholfdag is onder meer gebruik om hulp te verleen met kospakkies aan behoeftige bejaardes.

Die geld is ook aangewend vir die koop van kragopwekkers, sonpanele en brandstof vir Engo se sentrums, en daar is ook van die geld gebruik om bykomende veiligheidsheinings by van die plattelandse bejaardesorgsentrums op te rig.

Claassens sê die geld stel Engo in staat om projekte aan te pak om die lewe vir minderbevoorregtes in die Vrystaat makliker te maak.

“Engo kan net dankie sê dat jul hart oop was vir die werk wat ons doen en dat julle ons hande sterk maak,” het hy op die oorhandiging gesê aan verteenwoordigers van Nashua, maar ook aan ondernemings, borge en individue wat by die gholfdag betrokke was.

You need to be Logged In to leave a comment.