Bloemfonteinse paralimpiese ster Louzanne Coetzee het die naweek die beste prys van haar lewe gekry.
Sy is Saterdag op The Willows met haar kêrel van die afgelope vier jaar, Jeandré Badenhorst, getroud.
Jeandré het Louzanne verlede jaar in September op die atletiekbaan gevra om te trou.
Jeandré se broer, Estean, is Louzanne se gids in die atletieknommers.
Louzanne se twee gidshonde, die nuwe hond Isabel en Oakley wat nou afgetree is, het as ringdraers by die trougeselligheid opgetree. Estean en Louzanne se sussie Anmari Coetzee het die honde begelei.
Die egpaar is nou op hul wittebrood in die buiteland en sal eers op 18 Oktober terug in die land wees.
Louzanne en Estean het vroeër vanjaar in die Wêreld Para-atletiekbyeenkoms in Parys ’n seisoen-beste tyd van 4:48.13 (1 500 m) gehardloop en vir volgende jaar se Paralimpiese Spele gekwalifiseer. Louzanne het ook reeds gekwalifiseer vir die marathon in die Paralimpiese Spele toe sy met haar ander gids Claus Kempen aan die London-marathon. Op die vorige Paralimpiese Spele in 2021 het Louzanne ’n silwermedalje in die 1 500 m (T11) en ’n bronsmedalje in die maraton (T12) behaal. Sy het ook ’n nuwe 1 500 m-Afrika-rekord (T11; 4:40.96) en ’n nuwe wêreld-marathonrekord (T11; 3:11:13) in haar klas opgestel.
Louzanne is een van Sentraal24 se benoemdes vir Vrystaatse Sportvroue van die Jaar vir 2023.
Die geselligheid waarin Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sportsterre aangewys word, vind Donderdag by Monte Bello plaas.
Sentraal24 se sportman, sportvrou en sportster van die jaar word op die geleentheid aangekondig.
Die UV se sportsterre asook die provinsie se topskolesportsterre word geëer vir hul harde werk.