0

Betrokkenes by vandeesweek se Smile-week by die Universitas- Akademiese Hospitaal is van links dr. Nikita Blake, Kim Robertson Smith (uitvoerende hoof van die Smile-stigting), Joanne Rayane, prof. Corné Nel (hoof van plastiese chirurgie), suster Baitse Molisapoli (hoofmatrone) en Linda Strydom (matrone).

Sy lyk na ’n gelukkige dogtertjie daar waar sy op die hospitaalbed sit en inkleur.

Hoewel ’n lang pad nog voorlê voordat Tlhonolofatso Malia (8) van Hennenman soos ander kinders kan praat, gaan sy dié week al ’n tree nader wees.

Tlhonolofatso, wat met ’n gesplete verhemelte gebore is, is een van 23 kinders wat sedert Maandag (07/03) danksy die Smile-stigting lewensveranderende operasies in die Univeritas- Akademiese Hospitaal ondergaan.

Haar operasie sal dit vir haar makliker maak om te eet en te praat.

Volgens dr. Nikita Blake, een van die chirurge in die span, behoort ’n kind met ’n gesplete verhemelte so gou moontlik ’n operasie te ondergaan sodat hy of sy van die begin af reg kan leer praat.

“Kinders soos Tlhonolofatso praat baie nasaal. Sy sal ná die operasie spraakterapie moet kry om haar spraak te verbeter.”

Die Smile-stigting is 21 jaar gelede begin nadat oudpres. Nelson Mandela dit vir een meisie moontlik gemaak het om ’n lewensveranderende gesig-operasie te ondergaan.

Sedertdien is meer as 4 000 families oor Suid-Afrika heen gehelp.

Die stigting het intussen sy missie verbreed sodat kinders met ernstige brandwonde ook deur middel van operasies bygestaan kan word.

Prof. Corné Nel, hoof van plastiese chirurgie by Universitas, sê dit is ’n spanpoging om hierdie kinders se lewe te verbeter.

Volgens Kim Robertson Smith, uitvoerende hoof van Smile, maak betrokkenes se toewyding die operasies moontlik.

“Dit is met groot bewondering en waardering dat ons die mediese personeel van die Universitas- Akademiese Hospitaal, asook administrateurs, vrywilligers, skenkers, kollegas en vriende, bedank vir die tyd wat hulle opoffer om hierdie wonderwerke moontlik te maak,” het Smith Dinsdag (08/03) tydens ’n nuuskonferensie gesê.

“Saam kan ons kinders help om hindernisse te oorkom en ’n lewe vol moontlikhede met selfvertroue te leef.”

You need to be Logged In to leave a comment.