Jy kan vir hondelief saamneem op vakansie as jy net goed beplan.Foto: Verskaf


Dit is wel net ’n kort vakansie, maar baie mense sien uit na ’n wegbreekkans iewers heen.

Hondeliefhebbers kan hul troeteldiere saamneem op vakansie of op naweek-uitstappies – al wat nodig is, is goeie beplanning met ’n spesiale fokus op jou hondemaatjie se veiligheid.

Barend Smit, bemarkingsbestuurder van MotorHappy, beveel aan dat honde-eienaars wat hul honde op vakansie wil neem, voor die tyd ’n goeie honde-halsband en inligtingskyfie koop.

Hier is ’n paar wenke van hoe om jou honde gelukkig en veilig te hou tydens ’n avontuurlike uitstappie.

Veilig op die sitplek

Koop ’n spesiale sitplekgordel om hulle veilig te hou. Vra raad by jou naaste troeteldierwinkel of veearts.

Kry ’n krat

As jy met ’n klein hondjie reis, kry ’n geskikte krat sodat hulle nie in die motor rondhol nie. Dit is ook ’n goeie plan vir honde wat senuweeagtig of skrikkerig is en veiliger voel as hulle in ’n kleiner omtrek is.

Bou ’n skans

As Rex jou pla omdat hy voor saam met jou wil ry, kan jy ’n skans by ’n troeteldierwinkel koop. So ’n skans hou jou hond agter en keer dat hy op jou skoot spring en jou soentjies gee terwyl jy konsentreer terwyl jy bestuur.

Stop gereeld

Net soos mense gereeld moet bene rek tydens ’n lang reis, is dit nodig dat honde ook ’n bietjie uitklim. Neem hom met ’n halsband om ’n draai te loop en gee vir hom hondebeskuitjies en ’n bakkie water by die rusplek.

Sit skakelaars af

Skakel die elektriese vensters se skakelaar voor by die bestuurder af sodat jou hond nie dalk per ongeluk op die knoppie druk en in ’n venster vasgeknyp word of deur ’n oop vensters spring nie.

Hou die vensters toe

Honde is mal daaroor om hul koppe deur die vensters te druk, maar iets kan hulle teen die kop tref of hul oë en ore seermaak terwyl jy op die langpad ry. Jy kan die venster vir ’n kort rukkie oopmaak waar julle stadiger ry en daar minder motors beweeg. Maak ook net seker dat die venster nie groot genoeg oop is dat hy uitspring nie.

Gee water

Maak seker dat daar altyd ’n klein bakkie water is waaruit die hond kan drink. Plaas ’n handdoek onder die bakkie sodat dit nie in die motor mors nie.

Hou hulle koel

Maak seker dat die motor koel en gerieflik is.

Pak die belangrikste goed

Onthou om jou hond se gunsteling-bederfies, speelgoed en ’n warm kombers in te pak. Moet ook nie die lang pad aandurf sonder ’n halsband en leiband en plastieksakke om skoon te maak waar hulle mors nie.

You need to be Logged In to leave a comment.