Goeie harte pak pad

Altesaam 15 ywerige motorfietsryers pak binnekort die lang pad om kinders wat uit moeilike omstandighede kom, van ’n beter toekoms te verseker.


Altesaam 15 ywerige motorfietsryers pak binnekort die lang pad om kinders wat uit moeilike omstandighede kom, van ’n beter toekoms te verseker.

Hendri Swanepoel van Extreme Bikers sê die groep mans en vroue gaan op Saterdag 6 Julie hul Extreme Dreams 3.0 ses tot ses-uitdaging ten bate van die die Therapéa-jeugsorg­sentrum onderneem.

“Ons wil geld insamel wat aangewend kan word vir die naskoolse opleiding van die meisies,” sê hy.

Barnard Knoetze (oom Barries), een van die stigterslede van dié bende motorfietsryers, sê dit is hul droom om die kinders op hul voete te help land.

By Therapéa is 18 meisies van die ouderdom van ses tot 18 jaar oud.

Die sentrum bied reeds die afgelope tien jaar ’n tuiste vir meisies wat deur die hof uit hul huis verwyder en in ’n plek van veiligheid geplaas moes word.

’n Bykomende huis word ook nou beplan.

Die Kinderwet maak nie voorsiening vir kinders ouer as 18 jaar nie. Dit beteken só ’n inwoner moet die jeugsentrum verlaat.

Dit is juis op hierdie meisies waarop Xtreme Bikers nou fokus, sodat daar geld sal wees vir naskoolse kwalifikasies om hulle te help om werk te kry en uiteindelik vir hulself te sorg.

Belinda van der Vlies van Therapéa sê meisies tussen die ouderdom van 18 en 23 is besonder kwesbaar.

“Dit is op hierdie ouderdom dat ’n jongmens die leiding van ’n pa en ma moet hê. Hulle moet die sorg van die huis verlaat, maar is so kwesbaar.”

Past. Bernard van der Vlies van die Verenigde Evangeliese Kerk sê dit is wonderlik dat professionele mans en vroue tyd afstaan om ’n verskil in die jong meisies se lewe te maak. Die jeugsorg­sentrum val onder die sorg van dié kerk.

Die Extreme Bikers spring op Saterdag 6 Julie om 06:00 weg. Sommige ry grondpad van 620 km langs ’n roete wat strek oor dorpe soos Wepener, Zastron, Smithfield, Edenburg en Petrusburg. Die roete eindig in Bloemfontein.

Ander, wat ’n rit van 12 uur op ’n teerpad aanpak, spring op dieselfde tyd weg en beoog om 900 km af te lê. Hulle ry oor Dewetsdorp en Wepener; oor Rouxville, Smithfield en Bethulie; en oor Colesberg tot by Petrusville, oor Orania, Hopetown, Kimberley en Petrusburg; tot terug in Bloemfontein.

Besoek die Facebook-blad Extreme Bikers vir meer inligting oor hoe om hulle in dié projek te ondersteun ten bate van Therapéa Kids.

You need to be Logged In to leave a comment.