Dagboek solank dié datum, sluit die boodskap af. Om elke hoek en draai, en op elke naweek, weeksaand en soms selfs met ontbyt word daar nou geleenthede gereël om nog alles gesê en gedoen te kry voor Desember.
Daarsy. Nou is “dagboek” sommer ’n werkwoord ook, ’n aksie.
Daarmee het ons al die potensiaal van die woord en begrip tot die uiterste benut – net soos ons deesdae met ons tyd maak.
Wanneer laas was ’n dagboek maar net dagboek?
Maar tog, nooit was dit al werklik die geval nie.
Toe ’n dagboek ’n huiswerkboek vir skool was, was dit wel vol saaklike notas soos: “Afr. – opstel vir Donderdag. Kuns – lees bl. 26-32. Wisk. – Trig hersien.”
Tog was daar ook die briefie wat jou vriendin by Vrydag ingeskryf het toe jy nie gekyk het nie. Die toffie-papier met die vierkantjie karton met ’n bemoedigende eksamenboodskap van die klaskaptein. Die bladsye vir die eerste en tweede kwartaal wat die boek uit sy nate wou laat bars, omdat dit grootliks ’n plakboek geword het: musiek- en flieksterre, katte, gedigte, straattonele uit wêreldstede, die lirieke van liedjies (met die hand neergeskryf soos wat jy dink jy dit raakgeluister het), kunswerke en nog briefies van maats.
Dagboek was eenmaal ook “Liewe Dagboek”. Die een vir wie alles vertel is. Wat alles geweet het. Wat die diepste geheime van jou hart veilig gehou het en nooit gelag het vir jou onrealistiese drome nie.
Dagboek het geduldig geluister na jou soveelste liefdesverklaring aan jou soveelste ware en enigste liefde; sy het jou venynige woorde sonder oordeel verduur wanneer jy ongevraagd teen iemand uitvaar; sy was daar vir die trane en die frustrasie en die verlange van ’n duisend dinge waarvan jy oor enkele weke niks meer sou onthou nie.
Toe, ná dit alles, ondergaan Dagboek sowaar ’n oormaaksessie.
Sy word ’n veeldoener, met verskeie gesigte, kompleet soos die moderne vrou. Kantoordagboek. Tuisdagboek. Droomdagboek. Dankbaarheidsdagboek. Fiksheidsdagboek. Reisdagboek. Dieetdagboek.
Skielik was daar nie ’n slimmer of meer betroubare manier vir ons om by te hou en te beplan nie.
Dagboek word digitaal, sy maak haar tuis op jou rekenaar en later jou slimfoon, sy bestuur jou vergaderings en pligte op kantoor, sy bestuur jou chaos van verjaardae en die kinders se skoolgoed en wedstryde, sy red jou lewe met herinnering-notas wat deur die loop van die dag jou foon laat flikker en biep.
Die papierweergawe van Dagboek is wel nog onmisbaar in die werkplek, selfs met al die rekenaarslimmigheid. Ek is sommer lus en bêre daardie sjokoladepapiertjie iewers tussen September se blaaie, knip en plak ’n katjie iewers en trek my kollega se dagboek nader wanneer sy nie kyk nie vir ’n briefie by Vrydag.