Bloemfonteiners kan uitsien daarna om ook deel te wees van die grootste nuwe sportgier in die wêreld.
Die 10by20-padelklub bou nou drie bane by Ramblers en beplan ’n groot opening wat van 1 tot 3 September sal duur.
Eslo Coetzee van 10by20 verduidelik dié sport is ’n kombinasie van tennis en muurbal wat op ’n baan van 10 m by 20 m gespeel word.
“Dit is verslawend – as jy eers begin speel, kan jy nie ophou nie.”
Eslo sê wat so lekker is van die sport, is dat dit ’n baie maklike spel is om te leer.
“Dit word in dubbels-formaat gespeel, wat beteken dat dit ’n baie sosiale spel is wat kameraderie tussen spelers bevorder. Jy het regtig nie baie ball sense nodig nie.”
Hy verduidelik dat spelers padels by die bane sal kan huur en ook daar balle koop.
Die bane by Ramblers is reeds ver gevorder en sal plek hê waar gazebo’s opgeslaan kan word vir kompetisie-geleenthede. Daar is ook genoeg parkeerplek by Ramblers.
Eslo sê die sport is reeds in die 1960’s in Mexico ontwikkel deur ’n sakeman wat nie ’n tennisbaan op sy eiendom kon bou nie omdat sy erf nie groot genoeg was nie.
Die spel het in die 1970’s in Spanje gewild geword. Die sport is vir die eerste keer in 2019 in Suid-Afrika gespeel.
Daar is al sowat 200 bane in Suid-Afrika met talle nuwe bane wat nou gebou word.
Die bane wat by Ramblers gebou word, is die eerste in die Vrystaat.
Die sport word beskryf as iets tussen tennis en muurbal en die grootte van die baan is heel gemaklik vir mense wat al pluimbal gespeel het.
Die spel is vir vier spelers ontwerp. Die baan word omring deur glasmure en soos met muurbal kan die bal van die muur af bons en dan geslaan word.
Hoewel die spel van tennis verskil, geld dieselfde puntestelsel as in tennis – stroop, 15, 30 gelykop, voordeel ens.
Die wedstryd bestaan uit ses potte elk en die wenkant is die een wat twee uit drie stelle wen en ’n uitkloppot waar tellings gelyk is.
Spelers bespreek ’n wedstryd op die Playtomic-app en klublede kommunikeer met behulp van ’n WhatsApp-groep om nog spelers vir ’n wedstryd te werf.
Sodra dit oopmaak, sal die bane daagliks van 06:00 tot 22:00 oop wees en daar is ligte waaronder spelers saans kan speel.