Ná ’n oproep om hulp op Genade in Aksie se Facebookblad vir die gesin wat alles in ’n huisbrand in Spitskop verloor het, het hulp ingestroom.
Maureen Oosthuizen van Genade in Aksie sê lede van die gemeenskap het ’n stoof, beddens en matrasse geskenk vir die gesin wat tydelik in ’n huurhuis daar naby bly.
Drie aangrensende huise het Donderdag in ligte laaie gestaan nadat ’n veldbrand eers ’n lapa en daarna die drie wonings laat vlamvat het.
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum sê daar was ’n probleem met die waterdruk in brandkrane in die Spitskop-landbouhoewes Donderdag toe die brand gewoed het.
AfriForum se nuwe privaat brandweerdiens in Bloemfontein, AfriForum Brandweer, en die Mangaung-brandweer kon egter innoverend te werk gaan om te verseker dat al die drie huise wat in vlamme opgegaan het, nie geheel en al vernietig is nie.
Drie aangrensende huise het Donderdag in ligte laaie gestaan nadat ’n veldbrand eers ’n lapa en daarna die drie wonings laat vlamvat het.
“Die swak waterdruk het nooddienswerkers se taak aansienlik bemoeilik, maar terwyl die munisipale brandweer water uit ’n swembad kon pomp, het die gemeenskap ingespring en ook gehelp om water aan te ry,” verduidelik Cooks
AfriForum Brandweer en die Mangaung-brandweer kon ná sowat vyf ure daarin geslaag om die brand finaal te blus.
Sy benadruk egter dat watervoorsiening ’n kritieke komponent in die lewering van brandweerdiens is en in sommige gevalle die verskil tussen lewe en dood kan beteken. AfriForum het onlangs ’n landwye brandkraanoudit onderneem om onder meer die sigbaarheid, instandhouding en funksionering van brandkrane te bepaal. Volledige bevindinge van dié oudit sal binnekort bekendgemaak word.