Die eerste spinnekopuitstappie in Bloemfontein het op 5 Desember talle nuuskieriges gelok.
Rudi Steenkamp, ’n spinnekopkundige van die stad wat wêreldwyd vir sy makrofoto’s geprys word, sê in die spinnekopklub van Suider-Afrika se 46 jaar is dit die eerste keer dat ’n uitstappie in Bloemfontein gehou word.
Dit word gewoonlik in Gauteng aangebied.
Sowat 30 belangstellendes, onder wie vier klublede van Gauteng, het die Sondag vroeg by die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin byeengekom en tot middagete spinnekoppe gesoek en in klein glasbuisies gevang.
Hulle het die lang gras met ’n sweepnet deursoek, en ook die bosse en takke met ’n stok geslaan om die goggas los te kry en in die net te laat beland.
Roulla Janse van Rensburg van Gauteng sê sy is baie lief vir spinnekoppe en dié belangstelling het net toegeneem sedert sy haar drie jaar gelede by die klub aangesluit het.
Sy het onder meer ’n buiswebspinnekop gevang, asook die “gevreesde sakspinnekop”, wat volgens Steenkamp nie dié slegte naam verdien nie.
Daar was ook nie-klublede en gesinne by wat bloot hul vrees vir spinnekoppe wou oorkom.
“Veral die kinders het die uitstappie baie geniet,” sê Steenkamp.
Stefan en Althea Viljoen van Bloemfontein het uit nuuskierigheid gegaan.
“Dit het nie gehelp dat ons gisteraand die rillerfliek Arachnophobiagekyk het nie,” het Stefan geskerts.
Hy het ’n hele paar spinnekoppe, waaronder springspinnekoppe, gevang.
Steenkamp sê die spinnekop-uitstappies behels gewoonlik dat die spinnekoppe weer vrygelaat word, maar omdat hulle ’n permit het, sou hulle veral die volwasse spesies versamel en aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement entomologie stuur. Die doel is behoorlike identifikasie onder ’n mikroskoop en opname in die Suid-Afrikaanse Nasionale Opname van Arachnida se databasis.